Ruan Vermaak en Jacquelene Charles saam met hul dogtertjie, Alexa Vermaak, op haar eerste dag in gr. 1. Sy is ’n leerling aan die Laerskool Staats in Kimberley.

Foto: Helena Barnard

In kraaknuwe skoene, en in skooluniforms waaraan nie ’n tikseltjie stof van die speelterrein kleef nie, het gr. 1-leerlinge op Woensdag 17 Januarie oor die land heen vir hul eerste skooldag opgedaag.

Vergesel deur gesin- en ander familielede het dié jong leerlinge – sommige trippelend opgewonde en ander blinkoog en tranerig – by hul onderskeie skole aangemeld.

Van die skole het die gr. 1-leerlinge se ontvangseremonie reeds op die Dinsdag hanteer, wat die eerste amptelike skooldag meer vlot laat verloop het.

Die woordvoerder van die Noord-Kaapse departement van onderwys, Geoffrey van der Merwe, sê geen ernstige voorvalle of uitdagings is tydens die begin van die akademiese skooljaar aangemeld nie.

Volgens hom sal ’n opname waarin tekortkominge en uitdagings identifiseer word, binne tien dae by Noord-Kaapse skole gedoen word. Dit kan onder meer bykomende skoolmeubels, onderwysers, leerlingvervoer, asook leer- en onderrig­materiaal insluit.

Amptenare in die vyf distrikte sou ook reeds begin het om moontlike oop plekke by skole te identifiseer.

Blaai deur die talle foto’s:

Ruan Vermaak en Jacquelene Charles saam met hul dogtertjie, Alexa Vermaak, op haar eerste dag in gr. 1. Sy is ’n leerling aan die Laerskool Staats in Kimberley.

Nihad Wookey het die ondersteuning van sy gesin op sy eerste skooldag aan die Laerskool Staats in Kimberley. By hom is ma Kelly, pa Youshaa en sussie Naqiya.

By die Laerskool Eureka in Kimberley, met ’n kennisgewing op juffrou Janine de Villiers se klaskamerdeur, “Nuwe avonture begin hier”, sit die gr. 1’s met splinternuwe skoolklere, tasse en skerpgemaakte potlode.

Kylie Clouts is gereed vir haar laerskoolloopbaan aan die Laerskool Staats in Kimberley. Eileen Brown het haar op dié groot dag vergesel.

By die Re Tlameleng- Spesiale Skool in Kimberley maak die departementshoof van die grondslagfase, Athalia Carlo, twee nuwe gr. 1’s op hulle eerste skooldag touwys in die klaskamer. By dié skool, waar leerlinge swaksiende, blind of doof is, word skoolonderrig van gr. 1 tot gr. 12 verskaf. Carlo vertel dat gebaretaal hier as ’n huistaal aangebied word, met Engels as eerste addisionele taal. Gebaretaal is in verlede jaar as ’n amptelike taal van Suid-Afrika verklaar.

Noah de Waal, in gr. 1 aan die Voorbereidingskool Fanie Malan in Upington, vertel dat hy net wil speel en nie wil leer nie.

Met ’n breë glimlag wys Lutshinzitha Nkosi dat sy gereed is vir haar eerste skooldag. Sy het vir gr. 1 aan die Laerskool Staats aangemeld. Met ma Georgina de Bruin aan die een hand en Rocky, die skool se gelukbringer, aan haar ander kant, is Lutshinzitha trippelend van opgewondenheid oor die dag en skooljaar van 2024 wat vir haar voorlê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article