Hettie van der Merwe (links) en Christelle Hattingh.

Foto: Helena Barnard

In soveel huise is ongebruikte artikels wat vir ander bruikbaar kan wees: wol, lap, skêre, inkleurboeke, tydskrifte, legkaarte, bordspeletjies, speelkaarte, sporttoerusting, skryfbehoeftes, klere . . .

Vir dié rede doen Hettie van der Merwe van Kimberley ’n beroep op inwoners oor die hele Noord-Kaap heen om uit te reik en te skenk.

Van der Merwe, beter bekend as Juffrou Hettie, was 75 jaar oud toe sy finaal uit die onderwys getree het, en nie meer afloswerk as onderwyser gedoen het nie.

“Dit is my passie om te help en ander te laat besef dat ’n mens meer kan help as wat jy dink,” vertel sy.

Kry wit olifante by ander uit
Haar hoofdoelwit vir nou is om dit wat nie meer in huise gebruik word nie, by iemand uit te kry wat dit nodig het.

Verlede jaar het sy op eie stoom by die Christina Kiddie-kinder-en-jeugsorgsentrum in die stad betrokke geraak, waar sy die kinders met onder meer skoolwerk help.

Dit kom nadat sy een nag ’n openbaring gehad het om haar eie kinders, wat lank reeds volwassenes is, se kinderboeke in te pak en te skenk, terwyl sy die woord “kinderhuis” duidelik gehoor het.

“Kinders moet iets hê om te doen,” is een van haar oortuigings, en sy sê so baie kinders wil skeppend wees, maar het niks om iets mee te maak nie, en hul ouers kan nie geldelik bydra nie.

Christina Kiddie gaan as afleweringspunt gebruik word vir die uitreik-aksie om ongebruikte artikels in te samel. Van daar sal dit sorteer en versprei word na waar dit nodig is.

Juffrou Hettie sê kerke, skole en organisasies kan ook aanbied om hierby betrokke te raak, en so ook maatskaplike werkers in ander Noord-Kaapse dorpe. Mense wat gereeld tussen dorpe in die provinsie reis, en plek in hul voertuig het, kan ook aanbied om met die vervoer en verspreiding van die artikels te help.

Christelle Hattingh, sedert April die bestuurder by Christina Kiddie, was vir jare by Kindersorg betrokke en sê dat sy vir Juffrou Hettie kan bystaan met kontakpersone oor die provinsie heen om artikels te help skuif na waar dit nodig is.

Hattingh beklemtoon dat Christina Kiddie as versamelpunt vir Juffrou Hettie se uitreik-aksie gebruik word. Dit wat die kinder-en-jeugsorgsentrum as skenkings ontvang, is nie deel van die uitreik-aksie nie.

Voorbeelde van hoe die gebreide poppies kan lyk wat Hettie van der Merwe graag aan onder ander Alzheimerlyers wil uitdeel om te troetel.

Die ondersteuning van Juffrou Hettie se aksie is Christina Kiddie se manier om ook uit te reik.

Om toiletpapier in grootmaat vir nie-regeringsorganisasies in te samel, is ook deel van Juffrou Hettie se planne. Sy verwys na ’n nuusbrief van so ’n organisasie waarin gestel word dat die blote toegang tot toiletpapier selfrespek vir diegene verteenwoordig wat nie vanselfsprekende toegang daartoe het nie.

“Toiletpapier is altyd in aanvraag by enige soortgelyke organisasie, asook toiletware,” sê sy.

Nog ’n projek aan die kom is om gebreide poppies met “handjies” aan Alzheimerlyers uit te deel. Sulke poppies bied troos, word vertroos, en hul “handjies” word vasgehou, vertel sy. By die projek kan breiers betrokke raak, en kan wol geskenk word.

Juffrou Hettie het ’n lang loopbaan in die onderwys wat in 1968 begin het. Sy het hoofsaaklik Afrikaans in hoërskole onderrig, en was as vaste aanstelling en aflosonderwyser onder meer in Bloemfontein, Port Elizabeth, Vryburg, Kimberley, Barkly-Wes en Ritchie. By ’n skool in Ritchie het sy en die skool se tuinman ook sokker afgerig.

Christina Kiddie is by Kindersorg Suid-Afrika (Noord-Kaap) affilieer. Dit is ’n nie-regeringsorganisasie en word deur ’n komitee van sewe vrywilligers bestuur.

Mieta Mokae, wat sedert 1990 as kok by Christina Kiddies betrokke is. Sy kan toor met kos. By haar is Hettie van der Merwe (links) en Christelle Hattingh.

“Die kinders hier leer ook om betrokke by uitreik te wees,” vertel Hattingh.

Hulle is ook by algemene huistakies betrokke, soos die ouer meisies wat sekere tye op kombuisdiens is, en ’n rooster bestaan vir tafeldek, afdek en skottelgoedwas in die aand.

In die sentrum word 28 kinders, van drie tot 18 jaar oud, gehuisves en versorg. Hulle is deur die Kinderhof hier geplaas.

  • Skenkings kan daagliks tot 21:00 by Christina Kiddie by Halkettweg 91, oorkant die Laerskool Newton in Kimberley, afgegee word.
  • Stuur ’n boodskap aan Juffrou Hettie by 082-494-2699 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article