By Woensdag se spesiale raadsvergadering van die Sol Plaatje-raad is besluit om te wag met openbare oorlegpleging totdat die LUR van samewerkende regering se hofaansoek – om ‘n vorige raadsvergadering waarin die begroting ter tafel gelê is as ongeldig te verklaar – Vrydag in Kimberley aangehoor word.
Terselfdertyd word dié munisipaliteit se teenaansoek dat die LUR se besluit om die munisipaliteit onder administrasie te plaas onreëlmatig was, ook aangehoor.
Intussen het Martha Bartlett, burgemeester, aangedui sy het die munisipale bestuurder versoek om die hof te nader vir ‘n interdik teen die voortgesette onbeskermde staking van die South African Municipal Workers Union (Samwu).
Die werkers staak sedert 18 Mei omdat hulle ontevrede is met die LUR se besluit, met die gevolg dat noodsaaklike dienste in Kimberley tot stilstand gekom het. Van die werkers wat in die galery tydens die spesiale raadsvergadering was, het plakkate by hulle gehad waarin hulle hul steun aan die stadsbestuurder en weersin in die burgemeester en speaker uitspreek.

Bartlett het haar spyt oor die staking waarin rioolvuil die strate afloop en rommel oral ophoop by die raadsvergadering uitgespreek, asook “die “ongepoetste amptenare wat telefone beantwoord”. Die burgemeesterskomitee moet probleme dringend help oplos en daaroor met ander raadslede kommunikeer.
Dit kom ook ná die bevindinge van die Menseregtekommissie oor die onmenslike omstandighede van inwoners wat in riool-besoelde gebiede moet bly.
Sy het ook ‘n skedule bekendgemaak vir openbare deelname waarin inwoners die begroting kan bespreek voordat dit goedgekeur word. Die munisipaliteit het ingevolge wetgewing reeds die spertye van die goedkeuring van die begroting misgeloop weens verskeie ontwrigte raadsvergaderings.
Dit het gelei tot die opposisie se suksesvolle petisie om ‘n virtuele raadsvergadering te hou om die begroting ter tafel te lê. Dit is die besluit wat die LUR in die hof wil omkeer.
Nuwe begroting weerspieël glo ‘werklike behoeftes’
Met die aanvang van Woensdag se vergadering wou Dipuo Peters, speaker, amptenare van die Nasionale Tesourie aan die woord stel om die “gebreke van die onbefondsde begroting” te bespreek, en ook om ‘n nuwe een wat met behulp van die Nasionale Tesourie opgestel is, voor te lê. Dié begroting weerspieël glo die werklike behoeftes van inwoners.
Opposisieraadslede het egter daarop aangedring dat dié betrokke voorlegging nie op die sakelys was nie, en daarom ontoelaatbaar is.
Raadslid Chris Whittaker het ook gesê hulle kan nie ‘n nuwe begroting aan die wyke voorlê wat hulle nog nie gesien het nie. Die DA is nie genooi na die vergadering waarin die voorgestelde nuwe begroting reeds met sekere ander raadslede bespreek is nie.
Openbare voorleggings is veronderstel om tussen 4 en 15 Junie plaas te vind, maar die DA sê daar is te min tyd om die nuwe begroting onder oë te kry. Boonop wag almal vir Vrydag se hofbevinding.
ANC-raadslid Frikkie Banda, voorsitter van die Munisipale Komitee oor Openbare Rekeninge, het aangedring dat ‘n tugkomitee weer op die been gebring word om onreëlmatige uitgawes te ondersoek en regstellende stappe te doen.
Die waarnemende stadsbestuurder vir dié vergadering, Lehlohonolo Rapodile wat ook die hoof finansiële beampte is, het aan raadslede gesê dat afwykings van die huidige begroting met die Tesourie bespreek word. Die Tesourie sal help om die kontrak met ‘n diensverskaffer wat die waternetwerk opknap, te bevestig om onreëlmatige uitgawes te vermy.
Pepersproei laat raadslede hoes
Teen die einde van die vergadering het ‘n paar raadslede aan die hoes gegaan omdat iemand êrens in die raadsaal pepersproei gespuit het.
LEES OOK: Chaos met eiergooi en pepersproei in raadsvergadering ‘doelbewuste nuwe taktiek’
Vroeër is dreigemente ontvang dat “rioolbomme” by die raadsvergadering gegooi sou word, en is so ‘n ‘“bom” glo deur sekuriteitspersoneel op iemand gevind.
Die vergadering is voorafgegaan deur ‘n stille plakkaatbetoging deur DA-raadslede wat die ANC-beheerde munisipaliteit beskuldig dat hulle swak dienste lewer, inwoners minag en korrupsie laat gedy.
LEES OOK: Kimberley mayor seeks court interdict as illegal strike cripples services






You must be logged in to post a comment.