Die tweede Skilder met Woorde-kompetisie is ‘n ideale geleentheid vir leerders wat lief is vir Afrikaanse musiek én daarvan hou om emosies en waarnemings met kuns uit te druk.
Ná Afrikaans.com se eerste Skilder met Woorde-kompetisie wat in 2021 plaasgevind het en uiters gewild was, is daar besluit om dit vanjaar weer aan te bied.
Die kunstenaar Elsie Jooste en bekende musikant Anton Goosen het tydens dié eerste kompetisie leerders aangemoedig om een van Anton se liedjies te skilder.
“Ná baie navrae van ouers en leerders wat met ons vorige kompetisie ingeskryf het, het ek besluit om die projek weer hierdie jaar te bedryf,” vertel Elsie.
“Die inskrywings van ons eerste kompetisie het ons oorweldig.
“Ek is ‘n groot voorstander van kuns in skole, en daarom is dit belangrik om só ‘n kompetisie aan leerders voor te stel.
“Dit gee ook die geleentheid aan leerders wat tuis onderrig word om hul skeppende talente uit te leef.”
Leerders kan vanjaar uit 15 liedjies kies om hulle tot ‘n kunswerk te inspireer.

“Die liedjies wat ek gekies het, sing elk ‘n prentjie. Wanneer leerders na die liedjies luister, kan hulle ‘n beeld vorm van dit wat vir hulle uitstaan.
“Die liedjies wat ek gekies het, is van toeka tot nou; liedjies wat leerders nou luister, en liedjies wat klassiek in die Afrikaanse musiekwêreld is.”
Elsie en die bekende sanger en kunstenaar Jan Blohm gaan die inskrywings beoordeel.
“Met die beoordeling van die kunswerke gaan ons kyk na die uitbeelding, emosie, komposisie en tegniek van elke kunswerk. Leerders kan in enige medium werk,” sê sy.
Kies ‘n kunswerk
Die volgende 15 Afrikaanse liedjies kan as skildertema gebruik word:
- “Lappop” (Carike Keuzenkamp);
- “Kinders van die wind” (Laurika Rauch);
- “Tik Tok” (Anton Goosen);
- “Inge 2” (Piesangskille);
- “Afrikaners is plesierig” (Karen Zoid);
- “Ou ryperd” (Dozi);
- “Vier seisoene” (Gian Groen);
- “Skepe” (Jo Black);
- “Sonvanger” (Valiant Swart);
- “Namibsroos” (Theuns Jordaan);
- “Groen trui” (Jan Blohm);
- “Verander” (Spoegwolf);
- “Dagdrome in suburbia” (Francois van Coke);
- “Draadloosdae” (Adam Tas); en
- “Royal hotel” (David Kramer).
Skryf só in
Om jou in te skryf, stuur ‘n hoëresolusie-foto van jou kunswerk aan Afrikaans.com by myafrikaans.com@gmail.com met jou naam, van, graad, die naam van jou skool, asook die naam van die liedjie waarop die kunswerk gebaseer is, daarby.
Inskrywings is reeds oop en sluit op 3 Julie.
Wenners sal in die eerste week van Augustus aangekondig word.
Deelnemers kan uitsien na kontantpryse ten bedrae van R28 000.
- Die volgende individuele pryse is op die spel:
Laerskool-afdeling – eerste prys: R3 000 (die skool waarin die betrokke leerder is, sal R8 000 ontvang); tweede prys: R2 000; en derde prys: R1 000 - Hoërskool-afdeling – eerste prys: R3 000 (die skool waarin die betrokke leerder is, sal R8 000 ontvang); tweede prys: R2 000; en derde prys: R1 000.
Tuisskoolleerders is ook welkom om hulle in te skryf.
Belangstellendes kan afrikaans.com besoek vir inligting.




You must be logged in to post a comment.