Vakbond ‘weerhou’ arbeid in protes teen LUR se ingryping in munisipaliteit

Sol Plaatje-munisipaliteit
Die burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit, Martha Bartlett. FOTO: Facebook

KIMBERLEY – Munisipale dienste in Kimberley het op Maandag 18 Mei onbepaald tot stilstand gekom nadat lede van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) “gereedskap neergelê” het. Dinsdag het ‘n optog na Bentley Vass, LUR, se kantoor plaasgevind en Woensdag en Donderdag het die staking van werk voortgeduur.

Bande is ook gebrand en protes-aksies het oor verskeie dele van Kimberley voorgekom. Samwu het gewaarsku dat dienste oor die stad heen tot stilstand geruk sal word indien die administrateurs nie verwyder word nie.

Dié “staking” volg op die provinsiale regering se besluit om die Sol Plaatje-munisipaliteit ingevolge Artikel 139 onder administrasie te plaas, ‘n skuif wat volgens die vakbond sonder die nodige oorlegpleging met hulle gedoen is.

Teen Donderdag is nog geen amptelike kommunikasie vanaf die Sol Plaatje-munisipaliteit ontvang oor presies hoe dienslewering hierdeur geraak word nie, en of daar enige gespreksvoering hieroor plaasvind.

Intussen vind munisipale toesigverhore by geïdentifiseerde distriks- en plaaslike munisipaliteite plaas. Donderdag het die gesamentlike komitees met die Frances Baard-distriksmunisipaliteit en die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit vergader. Dié toesigverhore fokus op die implementering van die distriksontwikkelingsmodel en geïntegreerde beplanningsprosesse.

Griewe spruit uit verskeie kwessies

Vuyisile Mangena, Samwu-verteenwoordiger, sê die meer as 1 500 lede sal nie terugkeer werk toe totdat daar aan hul eise voldoen word nie.

Die “staking” wat nie amptelik uitgeroep is nie het Maandag met ‘n “vreedsame optog” na die burgersentrum en raadsaal begin. Vakbondlede het hier met Martha Bartlett, uitvoerende burgemeester, en lede van die burgemeesters-komitee vergader om hul griewe te lug.

Volgens Mangena het die burgemeester aangedui dat sy nie kan ingryp nie, aangesien die munisipaliteit die provinsiale regering se Artikel 139-besluit in die hof betwis. Boonop het die LUR ‘n hofaansoek ingedien om ‘n vorige raadsvergadering as ongeldig te laat verklaar.

Die vakbond se griewe spruit uit verskeie kwessies.

Een is dat nóg die vakbond, nóg die gemeenskap gekonsulteer is oor die ontplooiing van die administrateurs. Die vakbond moes na bewering deur nuusbriewe van die besluit hoor voordat amptelike dokumente uitgestuur is.

Hul grootste grief is dat die nuwe administrateurs bestaande ooreenkomste wat in die plaaslike arbeidsforum bereik is, opsy sal skuif. Dit sluit kritieke sake in soos die verlenging van dienskontrakte en die permanente aanstelling van tydelike werkers.

Samwu beskryf die provinsiale regering se optrede as prosedureel onreëlmatig en in stryd met die Grondwet.

Die staking sal ‘n onbepaalde tydperk duur, en die vakbond sal daagliks nuwe mandate van sy lede kry. Die vakbond sê dienste sal onmiddellik hervat word sodat die Artikel 139-besluit herroep word.

LEES OOK: Sol Plaatje-stadsbestuurder veg terug teen “onwettige” provinsiale ingryping

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article