Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Eerder die hysbak gebruik as trappe klim. Eerder vier keer deur die parkeerterrein ry om ‘n parkeerplek reg voor die ingangsdeur na die winkelsentrum te kry as om verder weg te parkeer en ‘n ent te stap.

Eerder nog ‘n keer olie- en styselryke wegneemkos ten duurste koop as om self ‘n aandete van gesonder en goedkoper bestanddele te maak. Eerder inkopies oor die app bestel as om jou selfoon neer te sit en self na die winkel te ry of stap.

Die afgelope weke het milde reën oor groot dele van die Noord-Kaap uitgesak en het winter reeds met yskoue kloue aan ons geraak. Dubbele dankbaarheid is wat ‘n mens kan hê vir die reën; en vir die gerief van ‘n droë en warm genoeg huis, klere en skoene.

Wanneer die dag grysdonker raak van onweerswolke of die luggie het ‘n ysige wintersbyt, is jy dankbaar vir dié gerief wat jy wel het, en dat jy ‘n warm beker tee kan maak.

In sulke tye is dit nodig om te onthou dat daar mense is wie se huise nat en koud is; wie se aardse besittings weggespoel het; wat koud en trietsig en werklik ongemaklik voel.

Is jy in jou gerieflike posisie verplig om uit te gaan, wil jy jou voete soos ‘n vies kat in die lig hou en voel jy heel verontrief.

Is dit wysheid en grysheid wat ‘n mens so laat voel, of het ons te gemaklik geword?

Wanneer ‘n mens té gemaklik word, lei dit tot stagnasie, swakker veerkragtigheid en verminderde fisieke en geestesgesondheid. Só skryf kundiges oor die moderne mens wat passief is, uitdagings probeer vermy en só geleenthede vir groei, leer en betekenisvolle ervaring misloop.

Terwyl kunsmatige intelligensie en tegnologie moeite minder maak, raak die moderne mens glo al hoe swakker, lui, en minder in staat om uitdagings te hanteer, met die gemiddelde persoon wat 93% van hul tyd binnenshuis deurbring.

Dit is die moeite werd om te lees wat ene Margie Warrell, ‘n motiveringspreker, geskryf het: “Don’t get too comfortable: Growth and comfort can’t ride the same horse”.

Sy skryf jy hoef nie jou gerieflikheid prys te gee nie; maar daag jouself net ‘n bietjie meer uit om buite die grense van gemaklikheid en stagnering te beweeg.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article