Darrel Botes van Hoërskool Aggeneys
Darrel Botes van die Hoërskool Aggeneys. FOTO: Facebook

Twee Noord-Kaapse leerders het met goue medaljes en as Suid-Afrikaanse kampioene van die Nasionale Skolesportkampioenskappe (NSSC) teruggekeer.

Darrel Botes van die Hoërskool Aggeneys en Danika Roets van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley, en het elk ‘n goue medalje in onderskeidelik die 100m-item en hamergooi verwerf.

Darrel het die 100m vir seuns o.19 in ‘n skittertyd van 10.47 kafgedraf. Hy het boonop ‘n silwermedalje in die 200m-item verwerf wat hy in 20.84 genael het. Darrel, wat oorspronklik van Pella is, sê sy goue medalje is ‘n bewys dat dit nie saak maak waar jy vandaan kom nie, jy kan nog steeds groot dinge bereik.

Danika het haar goue medalje verdien deur in die meisies o.19-hamergooi-item die 4-kg hamer 48.33m ver te laat trek. Haar wengooi-aksie is as kalm, beheerd en klinies beskryf.

Manthes Christiaan, nog ‘n Noord-Kapenaar, het ‘n bronsmedalje in die seuns o.15-hoogspring-item verwerf ná hy op ‘n hoogte van 1.70m oor die dwarspaal geseil het.

Die Noord-Kaapse aflosspan het ‘n silwermedalje verwerf ná hulle die 4x100m-aflositem in 43.61 voltooi het.

‘n Totaal van 86 leerders van die Noord-Kaap het kwalifiseer om vanaf 29 April tot 2 Mei aan dié byeenkoms by die Pilditch-stadion in Pretoria deel te neem.

Hierdie jong atlete in die Noord-Kaapse span het vroeër hul provinsiale kleure deur ‘n mededingende pad van skoolvlakkompetisies tot distrik- en provinsiale proewe verwerf. Noord-Kaap het agtste onder die nege provinsies wat deelgeneem het, geeïndig.

Bygewerk op inligting van Nick Pretorius en Gerald Beukes

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article