Wildeklawer-sporttoernooi kan vanjaar R300 miljoen vir Kimberley inbring

Absa Wildeklawer Skolesportnooi
Die Wildeklawer Skolesporttoernooi vind vanaf die naweek in Kimberley plaas. FOTO: Argief

Op die vooraand van vanjaar se Absa Wildeklawer Skolesporttoernooi waarin rugby, netbal, sokker en hokkie gespeel word, glo organiseerders dit gaan meer as R300 miljoen in die stad se ekonomie spuit.

Cassie Karstens, toernooidirekteur, sê die toernooi wat van 23 April tot 2 Mei plaasvind, bied ’n bietjie verligting vir die Diamantstad wat geruk is deur die onlangse dood van vyf mynwerkers by die Ekapa-myn na ’n modderstorting en die gevolglike aansoek om likwidasie van die maatskappy waarin 1 200 mense hul werk verloor het.

“Die hoogtepunt van vanjaar se toernooi is dat 32 hokkiespanne van topskole soos Waterkloof, Monument, Garsfontein en Paul Roos gaan deelneem. Verlede jaar was daar net 12 hokkiespanne.

“Altesaam 242 spanne van 126 skole gaan in die tiendaglange toernooi deelneem. Ons verwag meer as 5 800 spelers, afrigters en beamptes. Hul ouers en ondersteuners sal ook op die stad toesak, waar daar byna nie meer plek vir ’n muis is nie.”

Op Vrydag 24 April vind die openingsgeleentheid by die Hoërskool Diamantveld plaas.

Wedstryde vind plaas by verskeie skole, sportterreine

Die seniortoernooi vind eerste plaas, gevolg deur die uitnodigings- en die laerskooltoernooi.

Die uitnodigingstoernooi by die Laerskool Newton behels 32 netbal- en rugbyspanne in die o.13- en o.19-ouderdomsgroep vanuit die Noord-Kaap.

’n Barbarian-rugbywedstryd vind ook plaas teen ’n span saamgestel uit Noord-Kaapse skole wat nie aan die hooftoernooie deelneem nie, en ’n sentraal-span van skole in sentraal Suid-Afrika.

Wedstryde vind by verskeie skole en sportterreine plaas, afhangende van die sportkode en ouderdomsgroep.

  • Diamantveld dien as een van die hoofvenues en heelwat senior rugbywedstryde (o.19) word op Diamantveld se A- en B-veld gespeel. Netbalwedstryde vind ook hier plaas.
  • By die Laerskool Newton vind die laerskooltoernooi plaas.
  • Kimberley Boys’ High School se nuwe astrobaan word vir meisieshokkie gebruik, en rugbywedstryde vir die o.15- en o.16 ouderdomsgroepe vind ook by die skool plaas.
  • Die veld by die Sol Plaatje-universiteit word ingespan vir sokkerwedstryde en seunshokkie.
  • By Laerskool Staats word o.14-rugbywedstryde gespeel.

Regstreekse uitsendings word op elektroniese skerms by Diamantveld en Newton vertoon.

  • Vir rugby is daar ’n seniortoernooi vir o.14-, o.15-, o.16- en o.19-spanne, en ʼn junior toernooi vir o.13-spanne.
  • Senior o.16- en o.19-netbalspanne sal wedywer, asook o.13-juniorspanne.
  • Die sokkertoernooi is op die o.19-seuns gefokus waarin 20 spanne deelneem.
  • Die hokkietoernooi word vir o.19-meisies en o.19-seuns aangebied.

Die toernooi se oogmerk is om gesonde kompetisie te bevorder, en dien as ‘n platform vir ontwikkeling van jong talent, dissipline, spanwerk en kernwaardes soos respek en toewyding.

Besoek Absa Wildeklawer Sport op Facebook vir die program en wedstrydbepalings.

LEES OOK: Duisende in Kimberley vir vanjaar se Absa Wildeklawer Skolesporttoernooi

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article