‘n Graad 11-leerder aan die Hoërskool Douglas se liefde vir netbal het ‘n hoogtepunt bereik toe sy onlangs gekies is om Suid-Afrika in netbalproewe in Dubai te verteenwoordig.
Die 16-jarige Shafieka Pieterse beskryf haarself as ‘n meisie van ‘n klein plattelandse dorpie met ‘n groot droom, en dit is om wel die BRSI Storm netbaltoer na Dubai te kan meemaak. Sy beskou dit as ‘n geleentheid wat nie elke dag op ‘n mens se pad kom nie.

Sy speel reeds vyf jaar netbal, en is sedert 2023 in die A-span. In 2025 is sy as die beste binnebaanspeler aangewys.
“Ek speel senter of aanvallende vleuel, maar is as senter vir die Dubai-toer wat vanaf 26 November tot 3 Desember plaasvind, gekies.”
Toerkoste ‘astronomies’
Angelique de Winnaar, netbal-afrigter vir die o.17B- en C-span, vertel dat Shafieka een van drie uit die distrik is wat gekies is om aan die netbalproewe deel te neem, “maar die kostes is astronomies,” vertel sy. Saam met Anandi Wiid, afrigter, is hulle met allerhande projekte doenig om dit vir Shafieka moontlik te maak om te kan gaan.
Die totale koste van die toer beloop nagenoeg R70 000, en die volle bedrag moet teen einde September betaal wees.
LEES OOK: Handbalspeler van Upington ingesluit in Suid-Afrikaanse o.20-span
De Winnaar vertel dat Shafieka bevriend is met van haar spelers en dat sy op hul selfoonstatusse gesien het hoe hulle bystand vir Shafieka se Dubai-toer vra.
” ‘n Meer verdienstelike speler ken ek nie, sy het soveel talent. Sy is altyd by elke oefening, en selfs op haar afdae oefen sy saam met my span,” sê De Winnaar.
Bel vir De Winnaar by 073 194 2469 vir meer inligting en ook om besonderhede te kry van die spesiaal opgemaakte geskenkpakkies wat te koop aangebied word as deel van die insameling, of besoek “Shafieka’s netball dream- Dubai” op Back a Buddy.










You must be logged in to post a comment.