JAN KEMPDORP – Die 52-jarige Johanna Jonas se droom om die eerste swart vroue-eienaar van die Noord-Kaapse hotel, die Jan Kemp Hotel in Jan Kempdorp te word, is verpletter deur die Nasionale Bemagtigingsfonds (NEF) se aanhoudende weiering om haar ʼn lening te gee.
Dit terwyl hulle na bewering lenings aan ander vroue gegee het wie se besighede intussen gefaal het.
“Ek het 20 jaar se ervaring in elke deel van die gasvryheidsbedryf. My droom is om met die nodige ondersteuning die Jan Kemp Hotel te verbeter en winsgewend te maak. Ek word egter die geleentheid ontneem sonder enige klinkklare redes. Ek het oor elke hekkie gespring wat die NEF aanhou stel het.”
Met my ervaring en die ondersteuning en mentorskap van die boetiekhotel, Hotel Border Post, se bestuur waar ek tans een van die bestuurders is, kan dit werk.
Die onmoontlike burokratiese eise en leë beloftes van bemagtiging ontneem haar van haar droom en ʼn geleentheid om ander voorheen benadeelde mense te bemagtig en werk te skep.
Ken elke aspek van die gasvryheidsbedryf
Jonas ken harde werk. Sy het haar loopbaan in 2001 by Bostons-restaurant in die dorp begin, waar sy haar pad van onder tot bo opgewerk het en elke aspek van die bedryf aangeleer het.
“Van kosmaak op die grill tot die fynere kunsies van skoonmaak, ontvangs, kosteberekening en hotelbestuur. Ek werk al jare by die opgeknapte boetiekhotel. Ek is gereed om die leisels van my eie hotel vas te hou.”
Haar struikelblokke het verlede jaar begin toe sy die NEF vir ‘n lening genader het.
Hoewel sy ‘n volledige sakeplan en finansiële dokumente ingedien het met die hoop op ‘n 100%-lening, is sy telkens met hindernisse begroet.
Haar plan behels om die Jan Kemp Hotel binne die eerste ses maande ná verkryging te omskep in ʼn hotel met minstens ‘n drie-ster gradering. Voorts wil sy 20 kamers met en-suite badkamers skep, met Wi-Fi en gerieflike meubels.
‘n Private blommewinkel, drankwinkel en eksklusiewe swembadarea met ‘n tuin vir fotosessies is ook deel van haar plan.
Sy wil smulpape met ’n “plaas-na-tafel” restaurant-ervaring lok en op Sondagmiddae buffet-etes aanbied wat plaaslike bestanddele sal bevat.
‘Deur in my gesig toegemaak’
Jonas glo hoteleienaarskap bied vir haar persoonlike groei en sal werk vir minstens vyf huishoudings binne die eerste drie jaar skep. Sy sal die inkomste uit dobbelmasjiene gebruik om dwelmverslaafdes te laat rehabiliteer en wil geldelike bystand aan twee plaaslike individue met gestremdhede gee.
Met ‘n geteikende besettingsyfer van 60% in die eerste jaar, projekteer sy ‘n jaarlikse inkomste van sowat R2,5 miljoen, met beraamde uitgawes van R1,8 miljoen. Haar teikenmark is sakereisigers en toeriste.
“Ek het verskeie kere dokumente vir my aansoek ingedien, maar dis nie oorweeg nie, wat tot groot tydvermorsing gelei het.
“Mthandeni Zungu van die NEF het eise gestel soos dat ek R250 000 moet bydra om die lening te kry. Ek het nie sulke geld nie, daarom doen ek aansoek vir die lening.”
LEES OOK: Nuwe museum, beplande buitelugmark bied rede vir besoek aan Jan Kempdorp
Daar is ook van haar verwag om data oor gaste-oorloop van ander hotelle te verskaf en planne te beraam om die hotel na ‘n drie-ster-gehalte te verbeter voordat sy die eienaar is.
“Dit is mos onmoontlik, ek kan dit eers doen as ek besit het. Inligting oor die hotel se huidige toestand en gastesyferdata is nie ʼn aanduiding van wat ek wil en kan vermag nie. Die huidige eienaar dink ek is nie ernstig nie, omdat die finansiering telkens deur die mat val.
“Hoe kan die NEF aanvoer hulle bemagtig swart vroue as hulle die deur in my gesig toemaak? My drome is verpletter,” sê sy.
‘Gee leiding vir heraansoek’
Die NEF sê in sy antwoord hy “is verbind tot sy mandaat om die betekenisvolle deelname van swart Suid-Afrikaners aan die ekonomie te bevorder, veral die ondersteuning van swart vroue-entrepreneurs om volhoubare en mededingende besighede te bou.
“Alle aansoeke word teen duidelike en konsekwente kriteria beoordeel, insluitend kommersiële lewensvatbaarheid, gereedheid vir finansiering en sosio-ekonomiese impak. In die betrokke geval is die aansoek formeel op 21 Mei 2025 geregistreer, en die besluit op 3 Junie 2025 gekommunikeer.
“Die NEF het vooraf ’n assessering van die voorgestelde belegging gedoen, wat ’n terreinbesoek ingesluit het. Leiding is verskaf oor sleutelareas wat nodig is om ’n lewensvatbare finansieringsaansoek te ondersteun, soos die volle omvang en koste van die opknappings wat die hotel tot ’n toepaslike operasionele standaard sal herstel. Ondersteunende mark- en operasionele inligting word benodig om volhoubare vraag en prestasie te demonstreer.
“Ons leiding sluit in advies oor toepaslike transaksiestrukturering, realistiese kapitaalvereistes en die beskikbaarheid van stawende data om beleggingsbesluite te rig.
“Hoewel Jonas ’n daaropvolgende aansoek in September 2025 ingedien het, was verskeie van die voorheen geïdentifiseerde kritiese vereistes uitstaande. Dit sluit in die markaanvraag, finansiële inligting en die volle omvang van opknappings wat nodig is om ’n volhoubare gasvryheidsonderneming te ondersteun. Gevolglik kon die aansoek nie ondersteun word nie.
“Ons besluit is nie ’n weerspieëling van ’n aansoeker se ervaring of potensiaal nie, maar eerder van die algehele gereedheid en volhoubaarheid van die spesifieke transaksie wat aangebied word. Ons gaan voort om konstruktief met aansoekers te praat om leiding te gee vir ʼn heraansoek indien dit haalbaar is.”
Die NEF is beskikbaar vir verdere gesprekke met die aansoeke.





