Honderde voormalige Ekapa-mynwerkers wat werkloos gelaat is, het op Vrydag 27 Maart kospakkies van meer as R700 elk van Kimberley se gemeenskap ontvang. Hul werkloosheid kom nadat ‘n vernietigende modderstorting op 17 Februarie, waarin vyf werkers dood is, die myn tot likwidasie gedwing het.
Die Ekapa Gemeenskapsprojek is deur Mari Venter begin en aangevoer. Sharon Steyn, hoofbestuurder van die Noord-Kaapse Sakekamer (Nocci), het “doeltreffende kommunikasie, wat verspreiding na aflaaipunte insluit” gedoen.
Dirk du Plessis, wat die nagaan van ontvangers behartig, het toepaslike inligting aan die Ekapa-werkers gegee.
LEES OOK: Likwidasie-aansoek: Ekapa-myn op sy ‘knieë gedwing’; kommersieel insolvent
Hy het ook ‘n gemeenskapsgroep op WhatsApp vir spesifieke behoeftes gestig, en die veldtog is in verskillende fokusgebiede verdeel, met verskeie vrywilligers en organisasies wat betrokke is.
Benewens dat nagenoeg 1 200 mynwerkers hul permanente werk kwyt is, het hulle ook nie vir Februarie ‘n salaris ontvang nie, ongeag dat hulle tot op 25 Februarie gewerk het.
Enorme geldelike druk vir gesinne, huishoudings
Die verlies aan inkomste, ‘n gevriesde pensioenfonds en gestaakte siekefondslidmaatskap weens wanbetaling het hierdie gesinne en huishoudings onder enorme geldelike druk geplaas.

Van die dankbare werkers wat glo die kos kan hulle ‘n maand hou, is George Nzinyathi, wat ondergronds gewerk het; Wimpie Coetzee, assistent-werktuigkundige met 24 jaar diens; en Gavin Sebate, eertydse vervoerbandoperateur, wie se vrou pas ‘n baba gehad het.
Akahona Ntsenge, masjienoperateur, sê hy het vyf jaar by die myn gewerk.
“Die premier se koopbewys van R3 000 was wonderlik, asook die werkloosheidversekering wat vanaf Mei betaal sal word. Ons hoop almal ons werksaansoeke by ander besighede sal slaag,” sê Ntsenge.
Skenkings, bydraes beloop meer as halfmiljoen rand
“Ek het saam met die stad se inwoners oor die dubbele ramp gehuil,” vertel Venter. “Gebed alleen is nie genoeg nie en iets daadwerklik moes gedoen word. Ek het skole en kerke gevra om betrokke te raak. ‘n Fonds is gestig en daar is met die insameling van kos en geld begin.”
Sy reken dit wat reeds verleen is en nog uitgedeel gaan word, kan meer as ‘n halfmiljoen rand beloop.
“Arina Zandberg van die NG kerk Bakenskop verleen bystand vir moeders met babas. Ander het aangebied om matriekmeisies se hare en grimering gratis vir hul matriekafskeid te doen, en ander het die verkryging van matriekafskeid-rokke en -pakke behartig.
“Die Rotary Club Kimberley, asook ander Rotary-klubs in die Noord-Kaap het geld ingesamel, asook die Anglikaanse katedraal van St. Cyprian in Kimberley, en die NG Kerk Ring van Kimberley en die Noord-Kaapse Sinode het geld bewillig.
” ‘n Anonieme private borg het ‘n aansienlike bedrag geskenk. Die geld wat ontvang is, is gebruik om R148 000 se kos te koop.
“Die aangekoopte kos is tesame met geskenkte produkte in pakkies opgemaak, elk met ‘n waarde van sowat R735. Dit bevat onder meer meel, kookolie, suiker, koffie, tee, kitsnoedels, pasta, rys, toiletpapier, tandepasta, seep en blikkieskos soos groente, pasta, vis en sojabone.”
‘Nie genoeg om aan almal te voorsien’
Van die laer- en hoërskole wat kos ingesamel het, is onder meer: Adamantia, Noord-Kaap, Diamantveld (hoër- en laerskool), Staats, Kimberley Boys’ High, Kimberley Girls’ High, Kimberley Islamic School, West End, Newton en Kiddies Heaven. Inwoners het ook kruideniersware by sekere ondernemings afgelaai.
Sowat 450 mynwerkers wat op die WhatsApp-gemeenskapsgroep was, het aan Venter bevestig dat hulle die kospakkie kom haal.
Troospakkies is uitgedeel aan diegene wat opgedaag het sonder om te bevestig. Ongelukkig was daar nie genoeg om aan almal te voorsien nie.
LEES OOK: Ekapa: Laaste twee liggame gevind ná modderstorting in myn vyf vaskeer
“Ek en my man, vir wie ek baie dankbaar is, het elke Donderdag die skenkings gaan haal en geberg by die Kimberley-rugbyklub, wat sy perseel en geboue beskikbaar gestel het.
“Verlede week het leerders en onderwysers van die betrokke skole en ander vrywilligers gehelp om die pakkies saam met die klub en die UXI-rugbyklublede op te maak.”
Dankbaarheid groot, maar ervaring ‘bittersoet’
Met die oorhandiging het lede van die polisie en Ironhawk Security and Protection, wat sy dienste gratis gelewer het, ‘n ogie gehou. Coastal Hire en Kimberley Power Products het hulp aangebied en worsrolletjies verskaf.

Venter is dankbaar teenoor die SAPD; Izak Maasdorp van die VKB vir die skenking van 400 pakkies pasta; PG Jansen vir die mieliemeelskenking; Henro Bulk Carriers vir die geskenkte soutpakkies; Nashua; Halsted; Wildman; en Jacobsdal Primêr vir die tente. Nadia Louw, Melissa Niewenhuizen, Arni van Rooyen en Pieter Bergh van die Griekwaland-Wes Rugbyunie het op hul beurt gratis kaartjies aan Ekapa-mynwerkers vir twee tuiswedstryde gegee, en kosprodukte is ook met die wedstryde ingesamel.
Die Ekapa-geldinsamelingsrekening het ‘n afsonderlike besigheidsrekening, geopen deur ‘n geregistreerde niewinsgewende organisasie. Dit word onafhanklik deur twee rekenmeesters en ouditeure gemoniteer. Deursigtigheid en aanspreeklikheid bly ‘n kernbeginsel, en finansiële state is op aanvraag beskikbaar vir enige skenker, sê Venter.
Die mikpunt is om R200 000 in te samel, wat nog minstens 400 gesinne elk ‘n kos-geskenkbewys van R500 kan gee. ‘n Aanvangsbedrag van R50 000 is beskikbaar, afkomstig van oorblywende geld ná die aankoop van kospakkievoorrade.
“Die kospakkies wat uitgedeel is, is ‘n bittersoet ervaring. Aan die een kant was daar die opregte dankbaarheid, seënwense en die tasbare bewys van ‘n gemeenskap wat saamstaan. Aan die ander kant bly die werklikheid dat die behoefte steeds veel groter is as wat een veldtog kan aanspreek.”
Konsert aangebied om fondse te verstewig
Venter reël daarom die Ekapa Relief-konsert wat van 10:00 tot laat op 11 April by die At The Fire-restaurant in Landbouweg, waar plaaslike kunstenaars gratis sal optree.
“Donné en Gert Hunt het agter die skerms gewerk om die konsert te reël, plaaslike kunstenaars gemobiliseer en ‘n program saamgestel.”
Die geld wat ingesamel word, sal gebruik word om kruidenierswarekoopbewyse aan dié persone te verskaf. Stalletjies, eetgoed, ‘n speelarea vir kinders, en ander vermaak is deel van die verrigtinge. Kaartjies is teen R50 per volwassene en R30 per kind jonger as tien jaar te koop.
Dit is aanlyn by kimberleyevents te koop, of by die toegangshek na die venue. Kaartmasjiene sal beskibaar wees want geen kontant word aanvaar nie. Bel vir Mari Venter by 081 345 8921 vir meer inligting.
“Ek vra elke inwoner om dit te ondersteun om die nood te verlig, want Kimberley se krag lê in sy mense,” sé Venter.





