Soms is ‘n mens nie seker watter van die katgevegte die meeste ontstel nie: Dié wat in die raadsaal van die Sol Plaatje-munisipaliteit voortduur, of die katkaskenades in videos op sosialemediaplatforms wat glo veral in China met kunsmatige intelligensie (KI) geskep is.
Soos voorheen genoem: As stadsraad van die Noord-Kaapse hoofstad behoort betrokkenes by die Sol Plaatje-munisipaliteit ‘n voorbeeld vir dorpsrade te stel – só het die premier immers ook al voorheen opgemerk.
Maar genugtig, nekhare word gerys, rûe kromgetrek, slagtande ontbloot en katnaels uitgeskiet terwyl grootmense in die stadsraad mekaar met ‘n onaardse kattegeskree betakel.
As dit nie so jammerlik was nie, was dit seker komies.
Selfs ‘n vergadering met betrokkenes wat deur Bentley Vass, LUR van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionale sake, byeengeroep is, het nie ‘n einde tot die munisipale katgevegte gebring nie. Inteendeel, nog ‘n paar het hulle tot dié kat-en-muis-spelery gevoeg.
Hieroor het Vass opgemerk dat inwoners ‘n stabiele, funksionele en bekwame munisipaliteit wat goeie gehalte dienste lewer, verdien.
Hy het gesê politieke verskille moet nooit ten koste van inwoners plaasvind nie, en dat die raad gemeenskaplike grond moet vind om voorkeur aan dienslewering op administratiewe én raadsvlak te gee.
Dat ervare stadsraadslede hieraan herinner moet word, is net so ontstellend soos die KI-katvideos.
Hoewel die videos vermaaklik is – om byvoorbeeld te sien wat dié katte, soos die “photorealistic cat as a stressed waiter” aanvang – is dit ontstellend realisties
‘n Mens wil jou later verbeel dat katte werklik op hul agterpote loop en borde kos in restaurante ronddra.
Net so absurd soos ervare stadsraadslede wat hulle nou al verbeel dat hul amp aan hoogdrama en opspraakwekkende videos op sosialemediaplatforms gekoppel moet wees.
‘n Mens wil aan alle dorps- en stadsraadlede die boodskap oordra dat dit op hierdie stadium van demokrasie té laat is om die kat nog eers uit die boom te wil kyk – inwoners oral oor dring meer as ooit tevore aan op basiese dienste.
In hierdie moderne eeu te midde van die sogenaamde Vierde Industriële Revolusie is dit seker nie té veel gevra dat gekoppelde krane water bevat nie, of dat riool onsigbaar tot by ‘n aanleg spoel nie, of dat straatligte wel lig gee nie.
Of is die kruks van die katgevegte juis dat benoude katte benoude spronge maak?
LEES OOK: Budget breakthrough amid legal battle: Sol Plaatje council secures temporary truce




