Politici moenie in beheer wees van watervoorsiening nie – dit is ‘n tegniese taak vir professionele ingenieurs.
Só is die direkteur-generaal van water en sanitasie (DWS), dr. Sean Phillips, in die eerste uitgawe van Die Papier deur Jana Marx aangehaal.
Om dit te vermag, moet die nasionale waterkrisiskomitee se eerste prioriteit wees om munisipaliteite te help om hulle water- en sanitasiedepartemente in nutsmaatskappye te verander, sê Phillips.
Pres. Cyril Ramaphosa het dié krisiskomitee in sy staatsrede in Februarie aangekondig.
Marx skryf voorts dat die DWS kragtens die Nasionale Waterwet strafregtelike klagte teen 56 munisipaliteite aanhangig gemaak het vir ernstige waterbesoedeling. Boonop is bevind dat waterkorrupsie binne die DWS die ergste ooit is – sedert 2018 beloop dit al meer as R20 miljard.
Bewerings van ‘watermafia’ in Noord-Kaap
Intussen sukkel al meer dorpe in die Noord-Kaap met bestendige watervoorsiening – selfs dorpe wat teen die Vaal- of Oranjerivier geleë is. Bewerings van “watermafia” word gereeld gehoor en in sommige gevalle benadeel interne politieke struwelinge in munisipaliteite die uitvoer van basiese dienste.
In ‘n onlangse verklaring doen AfriForum ‘n beroep op die Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul, en verskeie Noord-Kaapse departemente, distriksmunisipaliteite en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK), om dringend die uitdagings rakende water-toevoer te ondersoek.
De Aar, Loxton, Vaalharts, Delportshoop, Kakamas en Keimoes gaan gebuk onder wisselvallige watertoevoer sonder enige aanduiding van wanneer dit opgelos gaan word, terwyl dorpe soos Warrenton en Ritchie vir jare reeds wisselvallige watertoevoer beleef.
Impak op ekonomie
Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo, meen dat hierdie situasie nie ‘n eenvoudige tegniese probleem is nie, maar ook ‘n krisis wat inwoners se gesondheid en waardigheid bedreig. Boonop het dit ‘n impak op die stabiliteit van die plaaslike ekonomie.
LEES OOK: Water emerges as a dangerous new war target
Die gebrek aan skoon, lopende water skend inwoners se reg tot water soos dit in die Grondwet vervat is.
Vervolgens eis die burgerregte-organisasie dat owerhede die volgende doen:
- ondersoek instel na die watervoorsieningskwessie wat die agt dorpe raak;
- om met die onderskeie munisipaliteite te skakel oor hul gebrek aan voldoende geskrewe terugvoer en optrede;
- te verseker dat onmiddellike maatreëls implementeer word om die watertoevoer te herstel en stabiliseer; en
- bevestig watter oorsig-, ondersteunende- of afdwingende stappe gedoen sal word om verdere onderbrekings te voorkom.
Die nasionale minimumstandaard vir watervoorsiening is minstens 25 liter water per persoon per dag; minimum vloeitempo van 10 liter per minuut; en betroubare watervoorsiening wat verseker dat inwoners nie langer as sewe dae per jaar sonder water sit nie.
– Die Papier is ‘n nuwe Afrikaanse koerant uit die stal van Novus Media, waarvan NoordkaapBulletin deel is. Dit verskyn elke Vrydag en is in die meeste winkels beskikbaar waar dagblaaie en Sondagkoerante vroeër te koop was.




