So kort voor die Internasionale Dag vir Wiskunde op 14 Maart hoef ‘n mens nie somme te maak om te weet dat ons kan doen met goeie nuus en hoop nie.

Thales, ‘n filosoof van die Antieke Griekse tydperk, het gesê “Hoop is die mees universele van alle menslike besittings”, en die tema vir vanjaar se Internasionale Dag vir Wiskunde is juis “Wiskunde en Hoop”.

Volgens die International Mathematics Union en Unesco kan ons meer as 2 500 jaar later ook sê dat wiskunde een van die mees universele menslike besittings is.

“Die koppeling van hoop en wiskunde skep geleenthede vir dieper insig en kennis. Wiskunde gee hoop om die werklikheid en waarheid duidelik te verstaan, gemeenskaplike definisies te deel, samewerking te leer, data verantwoordelik te gebruik, wen-wen-strategieë te vind, en meer,” (be)reken hulle.

Jy wil egter een en een bymekaarsit en tot die slotsom kom dat oorlog nie ‘n wen-wen situasie is nie, en dat wêreldleiers nog nie die som van samewerking kan doen nie.

Maar wiskundige denke dra glo by tot hoop omdat dit oorweldigende onsekerheid in uitvoerbare padkaarte omskep, en bied maniere om uitkomste te voorspel.

Data-kenner, Kiko Llaneras van die publikasie El País, skryf die wêreld verbeter wel, anders as wat ons glo. Soos dat die wêreldwye lewensverwagting die afgelope twee dekades tot 73 jaar gestyg het. Ekstreme armoede neem af: In 2000 het 36% van die wêreldbevolking in uiterste armoede geleef; nou is dit 10%.

Die persentasie meisies wat hoërskool bywoon, het sedert 2000 van 47% tot 68% gestyg.

Sedert 2000 het die wêreldwye persentasie van toegang tot elektrisiteit van 78% tot 92% gestyg – in Rwanda van 6% tot 64%. Boonop het hernubare energie steenkool as bron van elektrisiteit vir die eerste keer ooit verbygesteek.

Ook het 73% van vroue in ontwikkelende lande ‘n bankrekening – in 2014 was dit slegs 50%. Parysenaars swem weer in dele van die Sein-rivier waar dit vir bykans ‘n eeu weens besoedeling verbied was.

In ‘n proefneming met 38 pasiënte met makulêre degenerasie kon 84% weer lees ná ‘n inplanting van ‘n millimeter-grootte skyfie onder die retina wat met ‘n kamera aan ‘n bril gekoppel word. Die kanker-oorlewingsyfers het in 50 jaar verdubbel, en in Amsterdam se kanale word trappies gebou sodat katte wat inval kan uitklim, en nie verdrink nie.

Dis goeie nuus, dit gee hoop, en mense wat somme kan maak het beslis tot dié positiewe veranderinge bygedra.

  • Vir nog rubrieke en meningstukke, lees hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article