Miljoene bestee terwyl rou riool veld instroom: ‘Gogga-ramp’ is mensgemaak

Goggapomp-rioolstasie
Die gehuurde pomp staan nutteloos terwyl die munisipaliteit glo steeds vir die gebruik daarvan betaal. FOTO: Charné Kemp

Die voortslepende rioolkrisis aan die noordekant van Kimberley is benewens ’n tegniese mislukking ook ’n “omgewings- en infrastruktuurramp” wat reeds oor meer as twee dekades ontvou.

Die verval by die Gogga-rioolpompstasie is die direkte gevolg van jarelange verwaarlosing, swak bestuur en tegniese onbevoegdheid. Só meen Johan Smit, VF Plus raadslid.

Hy sê die Gogga-pompstasie is ʼn kritiese spilpunt in Kimberley se rioolnetwerk. Dit is ontwerp om rou riool vanaf Galeshewe na die Homevale-suiweringsaanleg te pomp, maar dit gebeur nie.

“Die stelsel het ophou funksioneer en die drie hoofinlate na die pompstasie is verstop, wat beteken dat rou riool nie eens meer die pompstasie bereik nie. Daarom vloei miljoene liters afvalwater na laagliggende gebiede en panne langs die R31-pad.”

Die pompkamers met sy nuwe pompe is in onbruik omdat daar geen riool-invloei is nie. FOTO: Charné Kemp

Die natuur probeer herstel waar die formele rioolstelsel gefaal het en riete neem die veld oor. Die verspreiding van Typha capensis (bontpyp) in die besmette gebiede is vir hom ’n duidelike teken van die hoë vlakke van stikstof en fosfor in die water.

“Hoewel die plante help om die water natuurlik te filtreer, is natuurlike stelsels nie in staat om permanente stedelike rioolstrome te hanteer nie. Die plante is ’n natuurlike waarskuwing dat die menslike impak die ekosisteem se breekpunt bereik het.

Die huidige situasie is ’n growwe skending van openbare gesondheid. Hoe lank en ver gaan dit eskaleer voordat daar daadwerklike en bekwame ingryping plaasvind?

Miljoene bestee

Die geldelike implikasies van die krisis is volgens Smit enorm.

“Terwyl miljoene rande bestee word om paaie soos die R31 te verhoog weens riooloorstromings, staan gehuurde pompe in onbruik op die perseel by Gogga. Terwyl skroefpompe geverf of vervang word by die pompstasie, bly die kernprobleem dat daar massiewe blokkasies in die in- en uitvloeipype is.

Die skroefpomp is onlangs opgeknap maar is in onbruik. FOTO: Charné Kemp

“Die inkomende pype vanaf omliggende buurte is heeltemal verstop. Niks vloei die stasie binne nie, en die uitvloeipyp na die Homevale-suiweringswerke is eweneens geblokkeer.

“Omdat die stasie nie riool kan ontvang nie, word sogenaamde honey suckers (rioolsuigwaens) gedwing om hul vragte onwettig in die oop veld buite die pompstasie se grense te stort.”

Rommel en vullis lê op die terrein en die dreine waar tenkwaens riool in die stelsel moet stort is verstop.

LEES OOK: Aggressiewe’ ingryping nodig vir Kimberley se riool-aanlegte; projek voorgelê

Die krisis word vererger deur bewerings van wanbestuur. Brandblussers is verroes met diensdatums reeds verval, en enkele sekuriteitskameras is in werking. ’n Halfgeboude aanbouing aan die agterkant van die kantore staan reeds lank verlate, terwyl die oorspronklike gebou strukturele krake toon. Volgens ingeligtes is sowat 18 dakplate op die gebou onlangs teen “miljoene rande” vervang.

‘n Enigste ligpunt vir Smit is die nuwe heining wat verlede jaar opgerig is om vandalisme en diefstal te bekamp.

Brandblussers staan op die terrein rond. FOTO: Charné Kemp

Oorweeg ander stappe ná ultimatum

Die aktivis Tebogo Kaulela het gepoog om in sy persoonlike hoedanigheid die munisipaliteit in die hooggeregshof uit te daag om hul werk te doen. Sy ultimatum van 14 dae vir ’n formele reaksie op die krisis het onlangs verstryk, en hy oorweeg ander stappe, het hy aan NoordkaapBulletin gesê.

LEES OOK: Riool-ramp by Kamfersdam dwing Transnet tot reddingsplan van miljoene rande

In die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (IDP) sê die Sol Plaatje-munisipaliteit dat die Gogga-pompstasie ’n “hoë prioriteit” is. Hulle verwys na projekte vir die opknapping van skroefpompe en die installering van nuwe ultrasoniese sensors om vlakke te monitor.

  • Thabo Mothibi, munisipale woordvoerder, het nie kommentaar gelewer nadat vrae aan hom gestuur is nie.
Dreine waar rioolsuigwaens afvalwater in die stelsel moet stort is met rommel en onkruid verstop. FOTO: Charné Kemp

LEES OOK: Toerismeroete benadeel deur munisipale verwaarlosing

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article