Upington, naas die hoofstad Kimberley, is die grootste dorp in die Noord-Kaap. Dié dorp langs die Oranjerivier word deur talle as ‘n beter Noord-Kaapse ligging vir toerisme, landbou en streekstoegang as die hoofstad self beskou. Wanfunksionering kan egter die vooruitgang van dié dorp bedreig.
Inwoners van Upington, berug vir sy uiterse hoë temperature in die somer, sukkel toenemend met ‘n gebrek aan water. Weens foutiewe pompe wat ongesuiwerde water uit die rivier na die watersuiweringsaanleg en vandaar na reservoirs moet voer, is die dorp van ‘n enkele pomp afhanklik en kan daar nie in die vraag voorsien word nie.
“Upington het baie water, maar die krane is droog. Dit is ‘n mensgemaakte krisis,” sê Flip van der Steen, DA-raadslid in die Dawid Kruiper-munisipaliteit. “Upington staar al jare watertekorte in die gesig, wat nou vererger deur verouderende infrastruktuur, mislukte instandhouding en swak munisipale besluite.”
Aan die einde van Januarie het die munisipale bestuurder, dr. Elias Ntoba, gesê wateronderbrekings en -beperkings is van 30 Januarie af tot verdere kennisgewing van toepassing. Die hele Upington, Kalksloot, Klippunt, Louisvale-weg, Kalahari-Wes, asook gebruikers van onbehandelde water, word geraak. Ntoba sê die foutiewe pompe is na die enigste agent in die land wat dié gespesialiseerde pompe kan diens, gestuur.

Upington is ‘n belangrike logistieke poort na Namibië en toerisme-bestemmings soos die Kgalagadi-oorgrenspark, Augrabies- Nasionale Park, Richtersveld, en die Noord-Kaapse kuslyn.
Sonder betroubare watervoorsiening kan hierdie belangrike logistieke poort egter baie ekonomiese skade ly en kan potensiële beleggers ander heenkome soek.
Volgens Global Africa Network word die dorp as ‘n belangrike, groeiende middelpunt in die Noord-Kaap beskou, met ontwikkelingspotensiaal gegrond op hernubare energie (soos sonkrag), landbou en logistieke moontlikhede.
Vrae of lughawe die mas opkom
Verskillende vervoermoontlikhede bestaan vir potensiële beleggers: die N10 en N14, wat die dorp kruis, en die Upington- Internasionale Lughawe. Dié lughawe hanteer binnelandse sowel as lugverkeer vanaf Botswana en Namibië en is vir sy burgerlike aanloopbaan van 4 900m in die suidelike halfrond bekend.
Strukturele probleme wat tot die tydelike sluiting van die lang aanloopbaan gelei het en agteruitgang van geriewe by die lughaweperseel, wek egter kommer of dié lughawe tans die mas opkom. Verwaarlosing is regdeur die lughaweperseel sigbaar. Die restaurant is glo afgradeer na ’n koeldrank-kroegie; voorheen netjiese tuine is oorgroei en verwaarloos; ’n lekkende waterpyp, wat direk oorkant die uitkykarea geleë is, is vir ’n geruime tydperk nie herstel nie en word deur waarskuwingslint en alge opgemerk. Boonop is die parkeerarea vervalle, en buitensporige parkeerkostes dwing passasiers om vir hul vervoer by die hek te wag.

Van der Steen sê die sluiting van die lang aanloopbaan het geweldige druk op die plaaslike ekonomie geplaas. Vragvlugte word noodgedwonge herlei of gestaak. Die Duitse motorvervaardigers wat gereeld voertuigtoetse op gedeeltes van die N14 buite Upington uitvoer, is van betroubare lugvragtoegang afhanklik.
Volgens Global Africa Network het die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) ‘n gulde geleentheid om ‘n lugvaartpark hier te ontwikkel. Weens ligging en ruimte kan vliegtuigberging, opknapping of sloop, verspreiding van onderdele en vragontwikkeling hier gedoen word. Die klimaat vir vliegtuigberging en lewensvatbaarheid vir groen (son)energie, maak dié lughawe ‘n ideale kandidaat.
Op navraag het Acsa Dinsdag gesê die aanloopbane is oop vir kommersiële en algemene lugvaartvliegtuie. Ofentse Dijoe het bevestig dat Acsa verantwoordelik is vir die algehele bestuur, onderhoud en instandhouding van die lughawe.
“In ooreenstemming met ons verbintenis tot passasiersveiligheid, was die lapa-gerief vir ‘n lang tyd gesluit en is dit sedert twee weke gelede herstel en vir die publiek se gebruik oopgemaak.
“Daarbenewens finaliseer die lughawe-bestuur die aanstelling van ‘n landskapkontrakteur, met terrein-onderhoud wat geskeduleer is om in Februarie te begin,” sê Dijoe.





You must be logged in to post a comment.