Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Die onlangse wegbreek uit werksroetine veroorsaak dat gedagtes soos trae kamele huiwerig is om ‘n oase te verlaat. Maar volgens ‘n spreekwoord is die lewe nie ‘n somervakansie nie.

Daarom is ‘n klompie voorbeeldige ge-dagte-kamele reeds volspoed op die pad van 2026.

‘n Mens wonder oor die roete van 2026 se pad. Hoeveel daarvan is ‘n hoofweg met vloeiende verkeer en bedagsame voertuigbestuurders? Hoeveel van die roete is smal bane met happe aan die teerskouers waar jy hoe lank wik en weeg, mik en terugval, om ‘n stroom vragmotors verby te steek? Hoeveel van 2026 se roete het lieflike vistas en horisonne wat meehelp dat jy die lewe sprankelend beleef?

Hoeveel barmhartige samaritane is op dié pad wanneer jy ‘n probleem ondervind, en hoeveel padvarke gaan jy teëkom? By hoeveel noodgevalle langs die pad gaan jy bereid wees om te stop?

Hoeveel van jou goeie voornemens vir dié roete gaan tot by die eindbestemming met jou wees?

Het 2026 se roete stop-en-ry punte; of nog erger: woedende betogers teen powere munisipale dienste wie onskuldige motoriste met klippe bestook, of dit uit pure aggressie doen?

Op 2026 se roete is die padtekens na die plaaslike regeringsverkiesings reeds aangebring.

‘n Mens kan hoop dat munisipaliteite oor die land heen vanjaar hul GPS’e ingestel het om by hul pligte aan te doen en tyd daar te vertoef – net hul pligte wat volgens regulasies aan hulle toegeken is, niks minder of niks meer nie.

Daarby kan ‘n mens hoop dat munisipaliteite hierdie pligte sal uitvoer sonder om telkens lofbetuigings te verwag of ‘n media-geleentheid daarvan te maak.

Uitvoering van hierdie pligte is immers waarvoor hulle ‘n salaris ontvang en waarvoor begrotings in plek is. Lofbetuigings is eers vanpas wanneer daardie ekstra myl of drie gestap of gery word.

Ook kan ‘n mens hoop dat 2026 se roete nie U-draaie het terug na die verlede nie; so ver terug dat apartheid steeds 32 jaar ná die eerste demokratiese verkiesing steeds die skuld vir onlangse flaters kry.

Hopelik is daar ook geen U-draaie en vingerwysing na die Covid 19-pandemie nie.

Die pad vorentoe lei ‘n mens immers na die toekoms, nie na dit wat nie eens meer in die truspieël sigbaar is nie.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article