Die tyd vir die laaste plasing van my rubriek in 2025 het aangebreek. Dit is altyd met gemengde gevoelens dat ek my laaste rubriek van die jaar skryf.
Teen hierdie tyd wonder ‘n mens hoe dit moontlik is dat die jaar so vinnig verbygevlieg het. Selfs die weke en maande wat gesloer het, is iets van die verlede. Om die laaste rubriek vir die jaar te skryf breek gewoonlik vinniger aan as wat verwag was.
Daar is ‘n laaste keer vir alles in die lewe.
Diegene wat verlof ingesit het, het onlangs hul laaste werksdag vir 2025 gewerk, of gaan binnekort hul laaste werksdag werk. Vir diegene wat aftree, het die laaste werksdag in hul lewe aangebreek. Vir die matrieks het die laaste skooldag aangebreek en die laaste skool-eksamen is afgelê.
Vir studente wat hul studie voltooi het, het die laaste dag op universiteit aangebreek.
Om te weet wanneer die laaste van iets gaan aanbreek maak ons opgewonde; en ons kan daarvoor beplan. Daar is egter baie wat ons vir die laaste keer doen of ervaar, waarop ons nie voorberei kan word nie.
Mense raak onverwags siek en sukkel om te herstel. Mense is in motorongelukke of beleef liefdesteleurstellings en besef agterna dat daar sekere dinge is wat ‘n laaste keer gedoen of ervaar is.
Ons gesels dalk vir die laaste keer met iemand sonder dat ons besef dit gaan die laaste keer wees. Ons stel uit om te kuier. Om daadwerklik iets goeds te doen. Om gesonder te leef of meer te oefen.
Uiteindelik word ons vir die laaste keer in ons lewe wakker of staan vir die laaste keer op.
Vir alles in die lewe is daar ‘n laaste keer om iets te doen of iets te beleef. Koester dit.





