colorful painted stones displayed on italian beach
‘n Bynaam kom gewoonlik met ‘n rede. FOTO: Simeon Maryska / pexels.com

‘n Paar weke gelede het ek iets oor doopname en noemname geskryf. Een leser het, nadat sy daardie rubriek gelees het, voorgestel dat ek iets oor byname skryf.

Byname. Soos doopname of noemname is dit ook iets wat ons gewoonlik nie vir onsself kies nie.

Soms word ‘n bynaam tydens ‘n sekere voorval aan iemand toegedig en dra die persoon die res van sy lewe hieraan. Ander kere het die bynaam te doen met iets wat eie aan iemand is, soos ‘n unieke manier van lag of ‘n bouvorm.

By families waarin algemene noemname soos Pieter of Jan of Gert is, word die verskillende lede in baie gevalle met behulp van byname geïdentifiseer.

Daar word van Langpiet of Rooipiet of Piet Kwaksalf gepraat. In ons gesin praat ons van Oupagrootjie Gert, Oupa Gert, oom Stoffel Gert en oom Gholf Gert.

Ek het ‘n hele paar jaar gelede van werk verander. ‘n Nuwe kollega het by my kantoor ingeloer en gevra: “Is jou naam Karin of Caren?”

Ek het ‘n oomblik van my werk af opgekyk en geantwoord: “Enige een van daardie is reg, net solank ek nie as ‘Kerm’ aangespreek word nie.”

Byname gee kleur aan die lewe.

Dit hou die lewe interessant as dit neig om saai te raak.

Mense word makliker onthou wanneer byname betrokke is, waarskynlik omdat daar juis ‘n vreemde gebeurtenis daaraan gekoppel word.

Of dit doopname, noemname of byname is, ons het min seggenskap hieroor. Sommige mense is tevrede met die name en byname wat hulle gekry het, ander nie.

Watter mense in jou lewe ken jy net op hul bynaam? As jy vir jouself ‘n bynaam kon kies, watter een sou dit wees?

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article