‘n Tyd gelede het iemand vir my iets gesê en ek het daarop reageer. Ek was glad nie kwaad of ongeskik nie, maar die persoon wat aan die ontvangkant was, was sigbaar ontsteld oor my reaksie.
Op my beurt het haar ontsteltenis my ontstel. Ons was albei ontsteld. Ek het probeer uitpluis waarom ons so ontsteld was, maar kon nie agter die kap van die byl kom nie.
Agterna het ‘n persoon wat ons albei ken my daarna uitgevra. Omdat ek self nie verstaan het waarom ons albei ontsteld geraak het nie, was dit vir my moeilik om dit verstaanbaar te verduidelik.
“Dit is soos om iemand skrik te maak,” het ek ingedagte gesê. Die persoon het in stille afwagting my aangestaar. Daar was geen teken van enige emosie op sy gesig te bespeur nie.
“Veronderstel jy loop in ‘n vertrek in waar iemand besig is om te werk en jy begin praat,” het ek lomp begin verduidelik.
“Partykeer skrik daardie persoon omdat sy jou nie verwag het nie. En omdat sy skrik, skrik jy. So jy skrik vir haar geskrik.”
Hy het geglimlag.
Dit maak nie saak met hoeveel takt ‘n mens soms te werk gaan nie, dit word nie altyd so seepglad opgeneem soos dit bedoel was nie. En dan vang daardie persoon se reaksie jou onkant.
Mense hoor nie altyd dinge soos wat dit bedoel word nie.
Mense is partymaal bloot te moeg om die boodskap objektief te ontleed en taktvol daarop te reageer. Soms breek die boodskap wat oorgedra word op en verbrokkel dit voordat dit die ontvanger se oor bereik.
Dan ontaard daar binne sekondes ‘n misverstand.
En in plaas daarvan dat een persoon ontsteld is, is ‘n tweede persoon ook ontsteld. Uiteindelik is daar ‘n oor-en-weer ontsteltenis. Soos ‘n oor-en-weer geskrikkery. En dit alles totaal onnodig.


