KIMBERLEY – Itumeleng Machabe (27), voorheen Bendow, wat in Februarie vanjaar in die hooggereghof in Kimberley skuldig bevind is op 18 van die 19 aanklagte van onder meer die verkragting en moord van ‘n 11-jarige meisie, het Woensdag ‘n aansoek gebring om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer.
Die saak het groot opspraak en woede in die Kimberley-gemeenskap gewek oor die verkragting en moord van Relebohile Segami (11) aan die einde van Maart 2022, wie se lyk hy in die veld in Galeshewe gelos het. Die hofsaal was destyds met familielede van die slagoffers en die beskuldigde en gemeenskapsaktiviste teen geweld teen vroue en kinders gevul.
Machabe is ook skuldig bevind op een minderjarige meisie se verkragting op drie wyses, die verkragting van ‘n 13-jarige meisie, die toon van pornografie aan ander minderjariges, crimen injuria en bedrog.
Hy het drie skoolmeisies op Facebook mislei en uitgelok om naakfoto’s van hulself aan hom te stuur. Hiermee het hy hulle verder afgedreig om nog meer eksplisiete foto’s en video’s te stuur. Machabe wat voorgegee het hy is ‘n gay skoolmeisie, was destyds inderdaad ‘n man van 22 jaar.
In die uitspraak het regter Cecile Williams die slagoffers en getuies as geloofwaardig bevind. Die een meisie het selfs tien jaar ná haar verkragting as 13-jarige in die getuiebank gehuil weens die trauma wat sy steeds ervaar. Machabe se verweer dat die gemeenskap met die meisie se toestemming plaasgevind het, is verwerp.
Sy weergawe ten opsigte van die pornografie en afdreigingsaanklagtes was oneerlik volgens die regter.
LEES OOK: Skuldig op 18 aanklagte: Vonnisoplegging moet erns van misdade weerspieël
Omstandigheidsgetuienis ‘verdoemend’
Hoewel daar nie bevestigende DNS-bewyse op die nekdoek en op die liggaam van Relebohile gevind is nie, is die omstandigheidsgetuienis verdoemend.
Die staat het aangevoer op die dag van die voorval het Relebohile en ‘n ander meisie en seun agter Machabe aangeloop omdat hy geld aan hulle belowe het. Nadat hy die een meisie gevra het of sy ʼn maagd was, het sy weggeloop. Hy het glo gesê hy gaan Relebohile sy vrou maak. Die seun het ook afgedraai. Nadat Relebohile na middagete weggeraak het, het Machabe by vriende se huis aangekom. Sy klere was vuil en hy was senuweeagtig. Dit sou blyk hy het ʼn vriendin versoek om te sê dat hy heelmiddag in hul geselskap was.
Adv. Sakkie Nel het in sy aansoek om verlof tot appèl aangevoer dat ʼn ander regter moontlik tot ʼn ander gevolgtrekking sou kom.
Volgens hom het die 13-jarige meisie se getuienis haar ma sʼn weerspreek. Sy het later ook die klagte teen Machabe teruggetrek. Die weergawe in die polisieverklaring van die klaer en haar ma is ook anders as wat getuig is. Van Machabe se weersprekings is nie wesenlik nie.
Nel het toegegee Machabe het homself weerspreek en weergawes verander oor die aanklagtes van die toon van pornografie aan minderjariges, bedrog en crimen injuria. Tog kan sy weergawe moontlik redelik waar wees.
Wat betref die moord-aanklagte, het Nel aangevoer die staat het nie die saak verder gevoer oor getuienis van ‘n man in ‘n rooi T-hemp wat naby die toneel gesien is waar Relebohile se lyk gevind is nie. Daar is ʼn moontlikheid dat ʼn ander man haar verkrag en vermoor en later haar lyk in die veld gestort het. Die lewenslange vonnisse wat hy opgelê is, kan na ʼn mindere vonnis versag word.
‘Kat en muis gespeel’ met slagoffers
Adv. Elmari Krüger, aanklaer, het in haar antwoord gesê die meisie wat op 13 jaar oud verkrag is, het jare daarna nog in die getuiebank gehuil. Sy en haar ma was geloofwaardige getuies, ondanks teenstrydighede. Uit desperaatheid en die kind se swak skoolpunte het hulle die klagte van verkragting teruggetrek sodat sy met haar lewe kan voortgaan. Hulle is nie te blameer vir die destydse stadige hofproses nie.
LEES OOK: Slagoffers ‘verneder, met minagting’ behandel
Machabe was oneerlik en het kat en muis met sy getuienis gespeel in die aanklagte van die toon van pornografie aan minderjariges. Sy groot fout was dat hy ʼn foto van homself aan een van die meisies gestuur en homself só as die afdreiger ontmasker het omdat hy seks wou hê.
Die weersprekings in getuienis van die ander minderjarige verkragtingslagoffer was van mindere belang, want dit behels net die aanloop van die voorval, en het nie betrekking op die misdade wat gepleeg is nie.
Die man in die rooi hemp is gesien kort voor Relebohile se koue lyk, wat reeds rigor mortis gehad het, ontdek is. Hy kon dus nie die verkragting en moord gepleeg het nie. Die staat het die prentjie “mooi geskets” oor hoe Relebohile die heeldag vir Machabe gevolg het om R20 by hom te kry, totdat sy verdwyn het. Hy het ook daardie dag seksuele voorstelle aan die minderjariges gemaak.
Regter Williams het uitspraak voorbehou.





