Rayno Nel (30), oudleerder van die Hoërskool Duineveld en ‘n boorling van Upington, het die afgelope naweek sy wêreldtitel suksesvol verdedig tydens die wêreldbyeenkoms van die Strongman Champions League (SCL) – hierdie keer op eie bodem by Duineveld.
In Mei is Rayno as die wêreld se sterkste man aangewys tydens die SBD World’s Strongest Man-kompetisie in Sacramento in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië. Hy was die eerste Suid-Afrikaner, die eerste van die Suidelike Halfrond en die eerste van Afrika om dié titel te wen. In die kompetisie wat van 15 tot 18 Mei geduur het, het Rayno vir Tom Stoltman van Skotland met ‘n halfpunt gewen. Tom is drie keer vantevore as die wenner van dié kompetisie aangewys.

FOTO: Nick Pretorius
Die afgelope naweek in Upington het gespierdes van Suid-Afrika, en onder meer van die VSA, Italië, Duitsland, Engeland, Ghana, Swede, Latvia, Hongarye, Poland en Nederland hul spierkrag aan duisende mense vertoon. Die jongste deelnemer was 27 jaar, en die oudste 40.
LEES OOK: Rayno die ‘Rhino’ uit Noord-Kaap aangewys as wêreld se sterkste man
Rayno het ‘n totaal van 85 punte verwerf, terwyl Kevin Hazeleger in die tweede plek 70,5 punte verwerf het, en Adam Roszkowski in die derde plek 69 punte.
Die kragmanne was op hul stukke tot groot vermaak van die skare. Onder die deelnemers was Rayno en die Ghanees Evans Nana die grootste gunstelinge.
“As ek Upington toe kom, kom ek huis toe,” het Rayno onder dawerende applous gesê.
LEES OOK: Oud-Upingtonner wen sterkmankompetisie op wêreldbyeenkoms
Verbeter twee rekords
In ‘n mediaverklaring sê Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur, dat Rayno “in ‘n merkwaardige vertoning van krag en konsekwentheid sy 2024-titel suksesvol verdedig het en sy plek as ‘n tweemalige SCL-wêreldkampioen verseker het”.
Volgens die minister het Rayno voor ‘n opgewonde tuisskare by Duineveld meegeding en ‘n vertoning gelewer wat vir jare onthou sal word.
Rayno het ‘n nuwe Shield Carry-wêreldrekord opgestel, en ook die SCL Hercules Hold-rekord verpletter – ‘n kragtige herbevestiging van sy oorheersing op die wêreldverhoog.






You must be logged in to post a comment.