Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

“Kan diegene wat weet, nie net uitkom met die waarheid nie? Skryf dit in ‘n brief en steek dit onder deur ‘n deur… laat hierdie oorverdowende stilte net vir eens en vir altyd verbygaan.”

Só skryf ‘n kollega en redakteur van die Weslander, Alida Buckle, onlangs in haar hoofartikel oor Joshlin Smith se verdwyning aan die Weskus. Joshlin was toe ses jaar oud. Alida skryf Joshlin se agtste verjaardag is vroeg in November met ‘n seremonie by die laerskool wat sy bygewoon het, herdenk.

As ervare joernalis was Alida een van die eerstes op die toneel waar Joshlin laas gesien is en het sy die uitgerekte hofsaak met “soveel vrae; so min antwoorde” bygewoon.

“Al sit Kelly, Boeta en Steveno vandag vir mensehandel en ontvoering in die tronk, sit die gemeenskap van Saldanha en omgewing steeds met dieselfde − en selfs meer − vrae,” skryf sy.

LEES OOK: JOSHLIN SMITH-SAAK | Kelly gaan appèl aanteken teen skuldigbevinding én vonnis

Eersdaags, op 25 November, neem die jaarlikse 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders-veldtog ‘n aanvang en duur dit tot 10 Desember.

Die hartbrekende kwessie van vermiste kinders pas by hierdie tema, want om iemand teen sy of haar sin in ‘n situasie in te dwing, of sy lewe te neem, is gewelddadig.

Sedert Joshlin se verdwyning is ‘n paar honderd kinders reeds as vermis aangemeld.

Van hulle is lewend gevind. Van hulle, soos die drie- en vyfjarige nefie en niggie van Bloemfontein, is albei in die afgelope drie weke vermoor gevind.

Statistieke toon dat armoede kwesbaarheid verhoog, met meer kinders uit benadeelde gemeenskappe wat geraak word.

Verdwynings spruit uit dwelmmisbruik, huishoudelike geweld, mensehandel, ontvoering of seksuele uitbuiting.

In inligtingstukke rondom die 16 Dae van Aktivisme versoek regeringsinstellings en ander organisasies dat Suid-Afrikaners daadwerklik praktyke wat tot die mishandeling van vroue en kinders lei, moet uitdaag en verwerp.

Volgens Missing Children South Africa (MCSA), ‘n niewinsgewende organisasie, toon statistieke dat 23% van kinders wat as vermis aangemeld word, nooit gevind word nie, of vermoor gevind word. MCSA sê agter dié statistieke is verpletterde gesinne, ontwrigte gemeenskappe en ‘n nasie wat worstel met ‘n krisis wat dringend aandag en volgehoue ​​optrede vereis.

Kinders verdwyn sonder ‘n spoor, maar mense was daarby betrokke. Mag meer mense op so ‘n manier betrokke raak dat al hoe minder kinders verdwyn. Soos wat Alida vra: Laat diegene wat iets weet, tog net iets sê.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article