By die brandende braambos sê die Here van die geslagte, die Verbondsgod, vir Moses: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem.” (Eksodus 3:7)
God verbreek die jarelange stilte en openbaar homself as die God wat nie ver en onbetrokke is nie. Hy is die God wat die ellende van sy volk raaksien, hul noodkrete hoor en hul lyding ter harte neem.
Hier sien ons God se deernis op sy beste.
Deernis wat in beweging kom en Moses na die Farao stuur om sy volk uit Egipte te verlos.
God wat later sy enigste seun, Jesus Christus, na ons gebroke wêreld gestuur het om sy volk te verlos.
Ons staan op die drumpel van die Adventstyd.
Dalk meer as ooit is ons verwagting en hoop gevestig op God wat die ellende van mense raaksien, God wat ons noodkrete in hierdie land hoor.
Ons verlang na ‘n God wat die onstuimigheid in ons hart raaksien; ons worsteling met die lewe en al ons probleme. Nie net raaksien en hoor nie, maar in beweging kom en ter harte neem en iemand stuur om in hierdie tyd by ons te wees en ons te dra as ons moeg geworstel is.
In Johannes 20:21 sê Jesus ná sy opstanding vir sy dissipels: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”
So stuur Hy vir ons in hierdie Adventstyd na ‘n gebroke en stukkende wêreld. Roep Hy ons op om draers te wees van dieselfde deernis as wat God vir ons het. Om die lyding rondom ons raak te sien, om met geduld te luister en met integriteit te gee.
Hierdie Advent herinner ons dat God steeds die God is wat sien, hoor en ter harte neem.
Soos Hy beweeg het na sy volk toe, beweeg Hy na ons toe − en stuur Hy ons om draers van sy lig, vrede en deernis te wees in ‘n wêreld wat daarna smag.



