KIMBERLEY – ‘n Trokdrywer wat vroeër vanjaar deur die polisie in Mosselbaai aangekeer is en Maandag in die hooggeregshof in Kimberley beken het hy het sy suster in dronkenskap tydens ’n rusie doodgeslaan en -skop is tot effektiewe gevangenisstraf van vier jaar gevonnis.
Herman du Toit (64), wat ʼn veelvuldige misdaadrekord vir dwelmhandel en padverkeersoortredings het, se vonnis van agt jaar is voorwaardelik vir vier opgeskort weens die moord op sy suster, Ellen Botha in hul woonstel in New Park, Kimberley.
Regterpresident Pule Tlaletsi het in sy vonnisuitspraak bevind dié geval het unieke feite wat hom van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar kan laat afwyk.
Dit kom nadat die uitgeteerde Du Toit vroeër skuldig voor gepleit het.
Volgens Du Toit is hy na die moord in Februarie 2020 aangekla, maar is hy op waarskuwing vrygelaat en is die saak van die rol geskrap. Hy het die ondersoekbeampte laat weet hy wil bieg, maar daar het niks van die saak gekom nie totdat hy vroeër vanjaar in hegtenis geneem is.
Heinrich Steynberg van Regshulp Suid-Afrika het namens die Du Toit sy pleitverduideliking voorgelees.
Die voorval het op 16 Februarie 2020 in die oggendure gebeur. In sy pleitverduidelik vertel hy van die aanloop. ʼn Paar weke tevore het ao. Henk van der Merwe een dag by hulle met ʼn lasbrief opgedaag om die woonstel te deursoek. Die polisielid het niks verdag opgespoor nie, maar die sibbe het glo verneder gevoel. Hulle het ʼn buurman verwyt dat hy die polisie ontbied het.
Een aand wou die sibbe vleisbraai, maar hy het te veel brandewyn en sy te veel bier gedrink. Hulle het nooit by die braaiery uitgekom nie.
Intussen het die emosies opgevlam oor hul vermoede oor die buurman. Botha wou die persoon gaan sien, maar Du Toit het die woonstelhek gesluit. Botha wou die slot met ʼn hamer stukkend slaan. Hy het haar geslaan waarna sy ʼn mes gekry en hom in die vinger gesteek het. Hy het haar geskop, sy het op die vloer geland, waarna hy haar verder geslaan en geskop het. Toe sy stil lê het hy Van der Merwe gebel, en hy is in hegtenis geneem.
Du Toit het nie beplan om sy suster te dood nie, maar hy was erg besope. Dit het hom egter nie verhoed om die verkeerdheid van sy dade te begryp nie. Du Toit sê hy het ernstige berou oor die voorval. Luidens die mediese verslag het Botha ernstige beserings weens stomp geweld opgedoen, waarna sy bloed ingeasem en verstik het.
Volgens die regter het Du Toit wat in Januarie 65 jaar oud word, geen vrou of kinders nie. Nadat hy st.8 geslaag het, het sy pa hom gedwing om te begin werk. Hy en sy suster was albei besope op die dag van die voorval, en sy het hom uitgelok omdat sy hom met ’n mes gesteek het.
Die moord was in die hitte van die oomblik gepleeg, en hy het berou getoon. Die feite laat die regter glo dat Du Toit nie weer so ’n misdaad sal pleeg nie. Hy is ’n eerste oortreder, sy vorige veroordelings is dwelmverwant. Die voorval wat gruwelik was, is egter nie ’n tipiese voorval van geweld teen vroue en kinders nie.
Die regter vind dit vreemd dat die staat destyds “geen ywer getoon” het om met die vervolging voort te gaan nie.
Adv. Mary-Ann Engelbrecht het aangekla.





