“On the fifth day, which was a Sunday, it rained very hard. I like it when it rains hard. It sounds like white noise everywhere, which is like silence but not empty.” − Mark Haddon, The Curious Incident of the Dog in the Night-Time
Gisternag besef ek. Daar is iets byna heiligs aan die oomblik wanneer die eerste druppels op die sinkdak val. Druppels op die aarde neerplof. Die geur van petrichor, die reuk wat uit die aarde opstyg. Dit is ‘n belofte wat nagekom word, want ek wag al van laas week vir die reën. En ek is net ‘n stadsjaap.
Vir ‘n boer is dit meer as net water wat uit die hemel val. Dit is hoop wat tasbaar word.
Ons leef in ‘n era waar ons alles wil beheer, waar presisiebesproeiing en klimaatmodelle ons die illusie gee dat ons die natuur kan bemeester.
Maar wanneer die weerlig begin flits en die donderweer rommel, word ons herinner aan die Groter Plan. Die reën kom nie omdat ons dit verdien nie, of omdat ons genoeg gebid het, of omdat ons die regte app op ons foon het. Dit kom wanneer dit kom.
In onvoorspelbaarheid lê ‘n dieper wysheid. Elke druppel wat val, dra die geskiedenis van die wêreld. Van water wat reeds miljoene jare lank in ‘n ewige siklus tussen see, lug en grond beweeg. Dieselfde druppel wat vandag val, het dalk eens ‘n Neandertal se dors geles of deur ‘n oerwoud gevloei.
In ons desperaatheid om water te bestuur, vergeet ons iets. Ons bou groter damme, sink dieper boorgate en installeer duursamer pomp. Wanneer laas het ons stil gestaan by die eenvoudige werk om grond voor te berei om reën te ontvang? Ons moet dekgewasse plant wat elke druppel in die grond laat insypel, ons moet kontoere respekteer en ophou om alles vierkantig en gelyk te maak.
Reën leer ons van oorgawe aan die natuur.




