Sopkombuis
Agt paar splinternuwe skoolskoene is uitgedeel, wat groot vreugde verskaf het. FOTO: Verskaf

“Twee weke gelede het ons nog niks skenkings gehad nie, behalwe die belofte vir ‘n pot rys wat vir ons gekook sou word.”

Só vertel Gregory Taylor van die Walk-By-Faith-sopkombuis van Santa Centre in Kimberley oor dié niewinsgewende organisasie se jaarlikse uitreikingsveldtog. Dit het op Saterdag 1 November te Tambo Square in Galeshewe plaasgevind.

“Ek het in geloof na die Vader met hierdie belofte van ‘n pot gekookte rys gegaan en gesê ek vertrou Hom ten volle. Nodeloos om te sê, Hy werk toe in en deur mense en besighede se hart, en só was ons uitreikingsveldtog ‘n groot sukses.”

Taylor vertel dat hulle nie geweet het dat Nasionale Kinderdag ook Saterdag plaasvind nie, en ‘n groot aantal kinders het opgedaag.

Hy sê te danke aan die hulp van skenkers en ondersteuners kon die Walk-By-Faith-sopkombuis 8 paar skoolskoene, 13 kospakkies, 64 pakkies met toiletware, 80 pakkies lekkergoed en 34 sakke klere met skoene uitdeel.

Sopkombuis
Op die uitreikingsgeleentheid is van links, voor: sers. Gloria Sehako; agter: Vanessa Pete, Gregory Taylor, Gail du Toit, past. Piet van der Linde as gasheer en Zeldie Kruger. FOTO: Verskaf

Boonop kon hulle aan almal teenwoordig ‘n bord kos en ‘n glasie sap bedien.

Tydens die geleentheid is daar onder meer gesprek gevoer oor gesinsgeweld, dwelmmisbruik en tienerswangerskap.

Sers. Gloria Sehako van die misdaadvoorkomingseenheid in Galeshewe het ‘n praatjie gelewer, asook Gail du Toit, ‘n onderwyseres. ‘n Voormalige dwelmverslaafde, Rowayne Riedt, het ook sy getuienis met almal teenwoordig gedeel.

LEES OOK: Meer kinders genooi na sopkombuis se geselligheid

Taylor bedank almal, insluitende die ondernemings, wat skenkings vir die geleentheid gedoen het, asook Gas and More Kimberley vir die skenking van gas om die ete te berei, en Grassroots Edge vir die toiletware en ander skenkings.

Vir meer inligting oor die sopkombuis, en om tot sy werksaamhede by te dra, skakel 073 198 3506.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article