Ons gesprek met hulle as gesin is amptelik en formeel. Dit is ‘n verkennende gesprek, maar ook ‘n besigheidsgesprek. Ons kuier lekker. Ons as personeel en die besonderse twee bejaardes.
‘n Mens kan by hulle leer. Die oom het nie meer iets om te bewys in die lewe nie. Hy het klaar sukses behaal. Sy deel gedoen. Sy ook.
Hulle geniet die vrede en die rustigheid van aftrede. Hul lewensverhaal is fassinerend, hul harde werk oor jare duidelik.
Nou, in hul tagtigs, beleef hulle steeds goeie gesondheid (geseënd); speel twee keer ‘n week gholf en geniet dag tot dag wat die lewe bied. Hy raak my aan as hy vertel van die heel belangrikste woordjie in ‘n mens se lewe. Jou eie lewe, jou gesin s’n, jou familie, jou kerk, jou skool, jou besigheid.
“Die les in die lewe, jongman (so spreek hy my aan), is een woordjie, net een…” Dan word dit ‘n oomblik stil en dan gee hy die woord, self, maar duidelik: “Diens…”
Twee mense begin gelyk. Een maak dit, ‘n ander nie. Twee besighede begin saam, een maak dit, ‘n ander nie.
Die geheim is diens. Alles gaan oor diens. Ek luister na hom. Ek dink aan hoe ons gewoond geraak het aan swak diens, oraloor. En dikwels swak diens lewer.
Hy brei uit daarop, verduidelik, vertel, gee voorbeelde. Van jou oë in die oggend oopgaan tot dit toegaan in die aand, moet jy goeie diens lewer.
Só dien jy in jou geloof jou Skepper, maar só bereik jy ook sukses. Hy verduidelik die invloed van hierdie woordjie vir dié wat dit verstaan; en die geweldige gebrek vir hulle wat dit nie verstaan nie.
Hy moedig ons aan. Gaan dink daaroor. Gaan bespreek dit. Gaan leef en gaan oefen dit. Diens is die verskil en die geheim van die lewe.


