Staatsaanklaer aanspreeklik vir skadevergoeding ná onregmatige inhegtenisname

handcuffs op hands of prisoner in jail
Ter illustrasie. FOTO: Ron Lach / pexels.com

‘n Aanklaer wat in 2011 geen redelike feitelike gronde gehad het nie en ongegronde afleidings gemaak het oor die skuld van ‘n verdagte in ‘n bedrogsaak, sal skadevergoeding moet betaal nadat die hooggeregshof in Kimberley bevind het die inhegtenisname en aanhouding van ‘n 72-jarige pensionaris was onregmatig.

Die eiser, Andries Jacobus Bester,  ‘n elektrisiën wat destyds meer as 30 jaar in Vierfontein in die Vrystaat gebly het, is verkeerdelik in hegtenis geneem en vir ‘n nag in die polisieselle aangehou op die vermoede van bedrog, ‘n misdaad waaraan hy onskuldig was.

Regter M.C. Mamosebo het op 5 September uitspraak gelewer in die saak wat Bester teen Marius van der Westhuizen, ondersoekbeampte; die minister van veiligheid en sekuriteit; en Luyanda Ngwevela, aanklaer, gebring het.

Van der Westhuizen en die minister het aan die begin van die verhoor die meriete van die eiser se eis erken en is hulle van die verhoor verskoon.

Ngwevela was destyds in Springbok gestasioneer. Hy het sy spesiale pleit gedurende die verhoor laat vaar, maar voortgegaan om Bester se eis teen te staan.

Die hof het bevind die verweerders is gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik vir skadevergoeding en die eis wat Bester mag bewys weens die onregmatige inhegtenisname.

Behoorlike ondersoek nie ingestel

Bester, wat 38 jaar lank vir dieselfde werkgewer gewerk het, is op 23 November 2011 aangehou nadat ‘n klagte van bedrog by die polisie in Port Nolloth ingedien is. Die klaer, ‘n ene Nicolas Petrus Kotzé, het beweer dat iemand wat homself as “Burger” identifiseer het, hom gekontak het om veevoer ter waarde van R2 500 te verkoop. Nadat Kotzé die geld betaal maar geen veevoer ontvang het nie, het hy ‘n bedrogsaak oopgemaak.

Die bedrieër, R. Boshoff, het ‘n selfoonnommer verskaf wat onder Bester se naam op die RICA-databasis geregistreer was. Bester het getuig dat hy Boshoff se sim-kaart vrywillig onder sy naam geregistreer het omdat hulle al jarelange vriende en vennote was. Later sou hy uitvind Boshoff was die werklike oortreder, wat ook gevonnis is.

Luidens die uitspraak het Van der Westhuizen en Ngwevela nie behoorlik ondersoek ingestel nie voordat hulle ‘n lasbrief vir Bester se inhegtenisname aangevra het.

Volgens die hof het die ondersoekbeampte gefaal om die klaer te vra om Bester as die persoon wat hom gebel het, te identifiseer; die tersaaklike selfoonnommer te bel om vas te stel wie daarvan besit gehad het; Bester vir ‘n verduideliking te kontak of sy woon- of werkadres te bevestigl en ‘n waarskuwingsverklaring van Bester te verkry.

Vals voorstellings is gemaak

Die hof het bevind die ondersoekbeampte het vals voorstellings aan die aanklaer en die landdros gemaak deur te beweer dat Bester deur die klaer as verdagte geïdentifiseer is en dat hy ‘n voortvlugtige sonder ‘n vaste adres was.

Ngwevela het die lasbrief vir inhegtenisname toegestaan ondanks onvoldoende inligting. Die hof het bevind dat hy nie behoorlik die dossier bestudeer het nie en bloot op die ondersoekbeampte se mondelinge verslag staatgemaak het.

Regter Mamosebo het bevind Ngwevela moes opgelet het daar is geen bewysbare skakel tussen Bester en die bankrekening-houer (Letitia Paul) waarin die geld betaal is nie. Die ondersoekbeampte se beëdigde verklaring het nie met die dossier-inhoud ooreengestem nie.

Voorts het Ngwevela verkeerdelik aangeneem dat “Burger” ‘n skuilnaam vir “Bester” was. Hy het ook aangeneem dat Ottosdal, waar Paul gewoon het, en Vierfontein in dieselfde omgewing geleë is. Die regter meen ‘n eenvoudige soektog op ‘n rekenaar sou bevestig dit is een-en-‘n-half-uur se ry uitmekaar.

‘Redelike gronde’ nie bewys nie

Toe Bester deur die polisie gekontak is, is hy vrywillig na die polisiekantoor, onbewus van die ondersoek teen hom. Hy is vir ‘n nag in ‘n koue, donker sel saam met vier ander gevangenes aangehou, en het geen kos ontvang en kon nie slaap nie. Hy is die volgende dag vrygelaat.

Regter Mamosebo het bevind dat redelike gronde meer as net ‘n vermoede moet wees – dit moet op spesifieke feite gegrond wees. Die aanklaer se besluit om die lasbrief te verkry was nie op redelike gronde geanker nie.

Die aanklaer het gefaal om die vereiste standaard van ‘n toegewyde openbare aanklaer te toon, het die regter beslis.

Die hof het beveel dat al drie verweerders gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik is vir skadevergoeding. Die kwessie van die presiese skadevergoeding-bedrag sal later bepaal word, óf deur skikking tussen die partye óf deur verdere hofverrigtinge.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article