Nie ‘n hoofstraat waarin maande se konstruksiewerk plaasvind, of ‘n rivier wat sy walle oorstroom en erge vloedskade in die dorp veroorsaak het, het Bloemhof-inwoners verhoed om nié vir die Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie in te skryf nie.
Dié dorp teen die Vaalrivier is op Sondagaand 3 Augustus as wenner in dié gewilde kompetisie aangewys. Bloemhof is veral bekend vir sy hengelkompetisies van wêreldstandaard wat by die Bloemhofdam aangebied word.
”Vir ons is dit simbolies dat die son weer nuut oor die dorp skyn,”vertel Daleen Steyn, projekleier van Bloemhof se Dorp van die Jaar-veldtog.
Sy het op 7 Maart ‘n logo, wat die son oor die dam uitbeeld, op die nuutgeskepte Facebook-blad Bloemhof Dorp en Dam – Bloemhof Town and Dam geplaas. Dié Facebook-blad sou gebruik word “as ‘n positiewe ruimte om die omgewing van Bloemhof te geniet” en ook om inligting oor die kompetisie bekend te maak. Benoemings vir die kompetisie het op 14 Maart gesluit, en daardie oggend het Steyn per toeval ‘n foto van die sonsopkoms, regoor die brug by die Bloemhofdam, geneem.

”Dit was vir my simbolies dat ons voluit vir die kompetisie gaan,” sê sy, en ook dat sy vanaf 14 Maart ‘n ”stille vrede” gehad het dat Bloemhof gaan wen.
Ongeag daarvan dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) die N12 deur die dorp, wat ook die hoofstraat is, herbou, of dat die Vaalrivier vroeër vanjaar twee maal erge vloedskade in die dorp veroorsaak het, het die veldtog volstoom voortgegaan. ‘n ”Rimpelspan”, wat elk soos ‘n klippie ‘n rimpeling op water veroorsaak, is saamgestel. Enkele aksies het ‘n reeks rimpels veroorsaak en dit is deur die hele gemeenskap versprei.
”Skielik is daar ‘n beweging, ‘n gevoel van saamhorigheid en ‘n positiewe verandering wat almal raak,” skryf Steyn op die Facebook-blad.

Volhoubaarheid van Bloemhof-besigheidsplan beïndruk
Met die aanwys van die wenner het Waldimar Pelser, direkteur van kykNet se premiumkanale, vertel dat die volhoubaarheid van die planne oor ‘n langtermyn wat deur die Bloemhof-span ingeskryf is, hom beïndruk het.
”Dit is geweldig inspirerend,” sê hy oor dié dorp se gedetailleerde besigheidsplan, terwyl Maryke Haywoord, bemarkingsbestuurder van Lottoland, sê dit is wonderlik hoe mense weer eienaarskap van hul dorpe neem.
Behalwe ‘n groot makietie wat vir inwoners wag, ontvang Bloemhof R1miljoen prysgeld van Lottoland en ‘n verdere R1miljoen lugtyd van kykNET. Die prysgeld moet volgens vaste riglyne tot voordeel van die dorp bestee word, met die opknapping en verfraaiing van die hoofstraat een van die projekte.






You must be logged in to post a comment.