Met R1 miljoen prysgeld van Lottoland en ’n verdere R1 miljoen-lugtyd beskikbaar gestel deur kykNET was die kompetisie om vanjaar as kykNET se Kwêla Dorp van die Jaar gekroon te word, ’n “heftige een”.
Só het Kwêla se aanbieder Hannes van Wyk vanjaar se kompetisie in Sondagaand 3 Augustus se episode beskryf toe Bloemhof in Noordwes as 2025 se wendorp aangewys is.
Buiten die prysgeld en die waardevolle lugtyd op kykNET, wag daar ook ’n lekker makietie op die inwoners van Bloemhof.
“Dit gaan vir my oor die hartklop van die dorp – en dis die mense – en ek dink Lottoland het gesien dat ons werklik ’n verskil maak in Suid-Afrika om mense deur dorpe te help,” sê Maryke Haywood, bemarkingsbestuurder van Lottoland SA oor die gewilde veldtog.
Dis vir haar ook wonderlike hoe mense opnuut eienaarskap vat van hulle dorpe en weer trots voel oor hulle land en die dorp waarin hulle bly.
Op sy beurt sê Waldimar Pelser, direkteur van M-Net premiumkanale, dat die sukses van ’n land nie gemeet kan word aan net daar waar dit goed gaan en alles oënskynlik werk nie. Wat ook kommer by hom wek is die geneigdheid onder mense die afgelope paar jaar wat voel die platteland kan maar afgeskryf word.

“En dan kom jy ’n gemeenskap teë wat weier om op te gee op hulle dorp en iets nuuts verbeel wat op daai dorp moontlik is, en dis verskriklik inspirerend,” sê hy en kan nie genoeg beklemtoon hoe belangrik die platteland in Suid-Afrika is nie.
“Ons sal nooit opgee oor die platteland nie.”
Albert Nel, wat gehelp het om Bloemhof se veldtog te dryf, vertel dat dit juis Hannes was wat hom so ver gebring het om Bloemhof aan die brand te kry toe hy die kompetisie aangekondig het en mense aangemoedig het om ’n kans te vat en in te skryf.
“Toe dink ek: ‘We’ve got it!’ Ek het gewéét. Ek het daai dag vir die mense gesê ‘julle gaan baklei wie kom televisie toe. Ons kies vandag!’,” kom dit van Albert. En hy sê hy het deurentyd gevoel hierdie jaar is Bloemhof se jaar.
Ook Daleen Steyn, Bloemhof se veldtog-voorsitter, bevestig dat hulle, tongeag daarvan dat hulle nou baie opgewonde oor hul wen is, tog wel van meet af aan rustigheid gehad het oor die uitkoms.
Hannes noem dat ook ander dorpe hom geweldig beïndruk het. Tweede was Rehoboth (Namibië), gevolg deur Wildernis aan die Tuinroete. Vierde was Pennington aan die suidkus van KwaZulu-Natal wat gehap-hap het aan die hakskene van die derde plek.
Daleen sê dat hul wengeld aangewend gaan word vir opheffing in die gemeenskap en om die hele Bloemhof nog meer ’n plek te maak waarop hulle trots kan wees. Hulle wil hierdie dorp se hoofstraat behoorlik op die kaart sit.
Die top-4 finaliste
- Bloemhof (Gauteng/Noordwes)
- Rehoboth (Namibië)
- Wildernis (Wes-Kaap)
- Pennington (KZN)
Die ander dorpe wat vanjaar streeksfinaliste was (in geen spesifieke orde nie):
- Fauresmith (Vrystaat)
- Mookgophong / Naboomspruit (Limpopo)
- Richmond (Noord-Kaap)
- Port Alfred (Oos-Kaap)
- Witrivier (Mpumalanga)






You must be logged in to post a comment.