Renier van Rooyen het vandeesweek in die getuiebank van die hooggeregshof in Kimberley enige bedoelde knoeiery met sy boddokumente ontken. Hy is een van die twee direkteure van die Defensor-sekuriteitsmaatskappy wat saam met ʼn eertydse departementshoof tereg staan op bedrog oor kontrakte van R384 miljoen by die Noord-Kaapse departement van gesondheid.
Van Rooyen het die week in sy eie verdediging begin getuig nadat sy en sy medebeskuldigdes se tweede aansoek om ontslag in die hooggeregshof in Kimberley voor waarnemende regter Omphemetse Chwaro misluk het. Dié aansoek het gekom nadat hulle die staat se sleutelgetuie, Trevor White, teruggeroep het om te getuig. White is ʼn forensiese ouditeur.

‘Dit is wat dit is”
Op Woensdag 9 Julie, in sy kruisondervraging deur adv. Isaac Mphela, aanklaer, het Van Rooyen aangevoer dat hy nie van probleme bewus was toe hy en sy vennoot die boddokumente ingedien het nie. Hy het nie geweet sy “staf van 50 kantoorpersoneel” het die verkeerde BTW-nommer op dokumente ingevul nie, al het hy en sy vennoot dit parafeer.
“Ek kan nie elke dokument wat deur ons maatskappy gaan vir foute deurgaan nie, my opgeleide personeel moet dit doen. Hoekom sal ek blaf as ek het honde het wat vir my kan blaf?”
Hy kan nie verklaar hoekom die verkeerde BTW-nommer telkens op verskillende boddokumente verskyn nie.
“Dit is wat dit is,” het hy getuig.
Hy het eers van die probleme bewus geraak toe hulle aangekla is. Indien amptenare en die bodkomitees die foute in hul evaluering raakgesien het, kon hulle die bod uitgegooi of die korrekte inligting versoek het, wat nie gebeur het nie.
Voorts het Van Rooyen die belastingklaringsertifikaat wat hy van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verkry het, net so in die bruin koevert as deel van sy boddokumentepakket ingedien. Volgens hom en sy “navorsing” wat hy gedoen het, was daar destyds baie rekenaar- en ander probleme by die SAID, wat die moontlike probleme oor sy sertifikaat kan verklaar.
Van Rooyen voer aan hy het toestemming en goedkeuring van die destydse kantoorbestuurder van Prisa gehad om ʼn sertifikaat te verkry op die naam van een Defensor-entiteit wat onder ʼn ander naam handel dryf.
Verdink van tenderbedrog vir sekuriteitskontrak
Van Rooyen (62) se medebeskuldigdes is sy vennoot Claudius Gerald Peterson (57) en hul maatskappy Defensor Electronic Security Systems, asook Steven Jonkers (55), eertydse departementshoof van gesondheid en deesdae adjunk-direkteur-generaal in die kantoor van die Noord-Kaapse premier.
Die aangeklaagdes word van tenderbedrog vir ʼn sekuriteitskontrak verdink. Die staat voer aan die beskuldigdes het vanaf 13 Maart 2014 tot 20 Oktober 2017 geheul en ʼn wanvoorstelling in tenderdokumente gemaak om die departement te bedrieg.
Die staat voer aan die maatskappy het as deel van die vereistes van die bod nie ʼn geldige belastingklaringsertifikaat ingedien nie. Hulle het ook wederregtelik onder hul ander maatskappye Defensor Security se naam ʼn registrasiesertifikaat van die Reguleerder vir die Private Veiligheidsbedryf (Prisa) ingedien. ʼn Ander entiteit, Camguard wat toe reeds deregisteer was, se BTW-nommer is glo op boddokumente as dié van Defensor Electronic Security Systems misbruik.
Jonkers het luidens die akte van beskuldiging as rekenpligtige beampte na bewering die departement en personeel mislei dat hy tevrede was dat verkrygingsvereistes nagekom is. Die vereistes van die Wet op Openbare Finansies is na bewering op opsetlike, onwettige en roekelose wyse geïgnoreer, luidens die akte van beskuldiging.
As rekenpligtige beampte moes Jonkers ‘n regverdige, deursigtige, mededingende en koste-effektiewe aankoopproses volg en onreëlmatige en vermorste uitgawes voorkom. Jonkers het glo die oorspronklike bod van R224 miljoen goedgekeur asook ʼn verdere aanpassing van R160 miljoen toe die kontrak onderteken is.
Adv. Edeling SC word deur adv. Kristle Peterson namens al die beskuldigdes bygestaan.
Die verhoor duur voort.






You must be logged in to post a comment.