Zimbabwiese bakkiebestuurder erken tref-en-trap, ontken moordaanklagte

PA-resident en ander in die hofgebou in Kimberley.
In die hofgebou in Kimberley is van links Gayton McKenzie (PA-president), Kenneth Booysen (pa van die oorledene, Mi-Kayla Booysen) en Sherifa Ferris (provinsiale PA-leier). FOTO: Charné Kemp

In ‘n pleitooreenkoms op ‘n aanklag van strafbare manslag, het ‘n Zimbabwiër erken dat hy ‘n jong belowende krieketspeler van Kimberley se dood in ‘n tref-en-trap ongeluk veroorsaak het. Hy het egter die twee aanklagte van moord, in die ongeluk met ‘n minibus wat hy kort daarna veroorsaak het, ontken.

Collin Nhlanga (39) wat erken hy is onwettig in die land, het Maandag 7 Julie in die streekhof in Kimberley voorts ontken dat hy dronk was en nie bystand by die toneel van die ongelukke gegee het nie. Volgens hom het hy vir sy lewe gevrees ná die eerste ongeluk in Barklyweg in Homelite, Kimberley, en het van ‘n persoon weggejaag wat hom agtervolg het waarna hy in die minibus in Homestead vasgery het.

Die twee ongelukke op 30 Junie 2024 waarin drie mense dood is, het groot opspraak verwek en Maandag was die hofsaal op die eerste dag van die verhoor volgepak. Die minibus waarin twee mense dood is, was vol lede van die Patriotic Alliance (PA) wat van ‘n byeenkoms in Kathu teruggekeer het.

Gayton McKenzie, PA-president en minister van sport, kuns en kultuur, het ook Maandag in die hofgalery gesit om die familie van die slagoffers te ondersteun. Volgens hom is daar nog baie trauma en hartseer by die naasbestaandes en het hy die oorledenes se grafte saam met die familie besoek. McKenzie is verlig dat die verhoor ná baie vertragings begin het.

Tref eers voetganger, daarna minibus

Op die dag van die ongelukke was Nhlanga agter die stuur van die wit Nissan Navara-bakkie wat omstreeks 14:30 die voetganger by die kruising van Barklyweg en Selekestraat in Homelite getref het. Die slagoffer was Omphile Jonas (16), ’n leerling aan die Hoërskool Vuyolwethu en ‘n belowende krieketspeler wat vir Noord-Kaap Krieket gespeel het. Nhlanga het weggejaag en na bewering teen ʼn hoë spoed van agter in ’n taxi vol PA-vrywilligers by ’n rooi verkeerslig in Homestead in Barklyweg vasgery. Videomateriaal toon hoe die minibustaxi met 14 passasiers daarbinne ná die botsing omslaan en op die sypaadjie te lande kom.

Die skoolseun wat deur die beskuldigde doodgery is.
Een van die drie oorledenes, Omphile Jonas (16) Foto: Verskaf

Mi-Kayla Booysen (19) en Cavino Matthews (24) was passasiers in die minibustaxi. Booysen is op 2 Julie 2024 aan haar beserings oorlede en Matthews op 19 Julie 2024.

Cavino Matthews
Cavino Matthews (24) Foto: Verskaf

Op die eerste dag van die verhoor het Kedametsi Talis, wat saam met Nhlanga in die bakkie was en agter hom gesit het, vertel hoe hulle daardie dag eers by ‘n sportveld alkohol geniet het, maar volgens haar het Nhlanga nie “so baie gedrink nie.” Vandaar het hulle in Kimberley se rigting gery, sy agter, en haar niggie, Sheila en Nhlanga se meisie, was die voorste passasier. Na die eerste ongeluk het Nhlanga teen ‘n hoë spoed van die toneel weggejaag.

Talis moes in opdrag van Nhlanga heeltyd agtertoe kyk, maar sy kon nie weens die wilde manier waarop hy gejaag het. Sy ontken egter dat hulle van iemand weggejaag het wat hulle sou agtervolg, maar sy het Nhlanga die heeltyd gevra om stadiger te ry en stil te hou. Toe hulle in Homestead aankom, kon sy net ‘n minibus, ‘n rooi motor en ‘n slag onthou, waarna sy in die hospitaal wakker geword het.

Mi-Kayla Booysen wat oorlede is weens haar beserings.
Mi-Kayla Booysen (18) Foto: Verskaf

Getuie vertel sy belewenis

Nog ‘n getuie, Romano Raaf, was ‘n motoris wat van Homestad gekom en regs in Barklyweg wou draai toe hy die minibus en ʼn maroen Polo-motor aan sy regterkant gewaar het wat by die drie-rigting-kruising by die rooi verkeerslig gewag het. Hy het op die groen verkeerslig regs gedraai en toe die Navara gewaar wat van voor af teen ‘n hoë spoed oor spoedhobbels aangery gekom het. Die maroen motor by die verkeerslig het vinnig padgegee net voordat die bakkie die minibus getref het. Die minibus het op die sypaadjie beland en omgeslaan.

Raaf het omgedraai en by die vulstasie parkeer. Hy het na die bakkie geloop en gesien hoe die bestuurder uitklim, en by die agterste passasierdeur inklim. Dit het vir Raaf gelyk of hy dronk was. Toe Raaf sy kop by die bakkie insteek het hy die bestuurder, wie se oë rooi was, gevra wat hy doen. Hy het geen antwoord gekry nie. Hy het twee bierbottels voor in die kajuit opgemerk.

Streeklanddros Elvis Morolong het die ongelukstoneel met ʼn ondersoek ter plaatse besoek en ʼn verslag in die rekord ingelees. Motuelusi Thotuten kla aan en adv. M. Malatji verskyn vir Nhlanga.
Die verhoor duur voort

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article