doctor showing cash money in clinic
Ter illustrasie Credit: Kaboompics.com / pexels.com

Dit kom voor of wanbetaling aan gesondheidswerkers in die Noord-Kaap ‘n groter krisis word.

Personeel by die Connie Vorster-hospitaal in Hartswater het sedert Maart geen oortydtoelaes vir nagdiens, naweekwerk of openbare vakansiedae ontvang nie.

Dit is soortgelyk aan die wanbetaling aan sessiedokters in Warrenton, asook uitstaande oortydtoelaes wat sedert Augustus aan personeel by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley verskuldig is.

Isak Fritz, DA-LPW en Noord-Kaapse provinsiale woordvoerder van gesondheid, sê sy party het die provinsiale wetgewer se gesondheidsportefeuljekomitee versoek om dringend te vergader om dié groeiende finansiële krisis aan te spreek.

Personeel van die Helen Bishop-huis, wat na 62 kinders met verreikende fisieke gestremdhede omsien, gaan ook gereeld gebuk onder die nie-betaling van hul salarisse van die provinsiale departement van gesondheid.

Fritz sê afgesien van die growwe skending van personeel by die Connie Vorster-hospitaal se dienskontrakte, het hulle met baie uitdagings te kampe, soos dat dit te min personeel het.

“Gesondheidswerkers voer reeds ‘n oorlog teen siektes, beserings en swak gesondheid.

“Daar kan nie van hulle verwag word om ook ‘n stryd teen die ANC-beheerde provinsiale regering te voer vir ordentlike werksomstandighede en gesondheidsorg van goeie gehalte nie,” sê Fritz.

Hy sê ook die party wil versekering hê dat die bykomende finansiële inspuiting van meer as R183 miljoen vir die gesondheids- en onderwysdepartement, soos in die provinsiale begroting aangekondig, sal verseker dat vergoedingsverpligtinge streng nagekom word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article