Sedert die begin van vanjaar, is Francois de Kock die hoof van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley. Charné Kemp het met hom gesels.

1. Hoe word die skool se kern missie en visie elke dag uitgevoer?

Die visie is uitnemendheid; die daarstelling van gesonde waardes om toegerus te word vir die samelewing. Ons glo aan diversiteit en om almal te respekteer. Ons glo aan opening elke dag, en streng dissipline waar voorkoms en die skooluniform netjies moet wees. Leerlinge word uitgedaag om na hul beste te presteer, en ons ontwikkel ‘n omgewing waar elke individu uniek is. Ons moedig elkeen aan om betrokke en deel te wees van die skool.

Francois de Kock voor die hoofgebou.
Francois de Kock Foto: Charné Kemp

2. Watter nuwe projekte is sedert u aanstelling van stapel gestuur?

Die bou van ‘n astrohokkiebaan het begin. Sport speel ‘n belangrike rol in leerlinge se opvoeding. Soms verlaat leerlinge die Noord-Kaap na ander provinsies waar hulle moontlik meer geriewe en blootstelling kan kry. Die opknapping van die skoolgeboue en terrein is belangrik omdat leerlinge trots moet wees op die instelling, en om te verseker dat die skool vir nog 90 jaar ‘n belangrike rol kan speel. Diamantveld en die Kimberley Boys’ High School het ‘n ooreenkoms op beheerliggaam- en skoolbestuurvlak om saam te werk.

3. Wat is die skool se grootste uitdagings?

Die beperkte ruimte om almal te akkommodeer. Uitdagings wat ouers het om skoolgeld te betaal raak al groter. Die skool is aangewese op borge om gehalteonderwys te verseker. Die voorbeeld van die wêreld is nie altyd na wense nie. Vir die rede is ons besig met ‘n beleid rakende selfone en sosiale media om ons leerlinge te beskerm en die gevare hiervan te beperk.

4. Hoe word inklusiwiteit bevorder en gelyke geleenthede verseker?

Ons moedig leerlinge aan om die verskeidenheid aktiwiteite by die skool te beoefen. Ons het meer sportspanne by sportsoorte en is nie net op A-spanne gefokus nie. Inklusiwiteit bevorder ons met sportdae waar ander skole by ons kom deelneem. Diamantveld en Kimberley Boys’ en Girls’ High beoog ‘n geesvangdag by ons. Leerlinge kry die geleentheid om dae soos Menseregte- en Vryheidsdag te vier.

5. Noem enkele onlangse prestasies of suksesse?

Diamantveld het akademies ongelooflik goed presteer aan die einde van 2024, en nege matriekleerlinge is in die 20 topleerlinge van die Noord-Kaap. Ons was weer die beste skool in wiskunde en fisieke wetenskap in die provinsie. Verskeie leerlinge is in provinsiale spanne in atletiek, swem, netbal en tweekamp ingesluit. De Wet Gouws het tydens die nasionale swemkampioenskap in April die eerbewys as victor ludorum ontvang. Die aanbied van die Absa Wildeklawer-sporttoernooi op ons terrein bly ‘n prestasie en voorreg.

6. Hoe skakel u met ouers en die breër gemeenskap om leer en ontwikkeling te bevorder?

Met ‘n oopdeur-beleid is ouers, leerlinge en personeel welkom om hul probleme of uitdagings persoonlik of per e-pos te stuur. Inligting word op WhatsApp-groepe gedeel om te verseker dat ouers op hoogte is van skoolaktiwiteite, en D6 word ook gebruik om met ouers te kommunikeer.

Amfiteater van die Hoërskool Diamantveld.
‘n Byeenkoms van die Hoërskool Diamantveld se leerlinge vind by die skool se amfiteater plaas. Foto: Facebook

7. Hoe word geestesgesondheid en -welstand vir leerlinge en personeel bevorder?

Diamantveld het ‘n heeltydse berader wat na leerlinge se geestesgesondheid omsien. Die skool bied ‘n verskeidenheid buite-kurrikulêre aktiwiteite aan vir leerlinge om van klaskamer-frustrasie ontslae te raak. Kwartaallikse aktiwiteite word vir personeel gereël. Sprekers soos Pierre Spies en Myan Subrayan word genooi om sekere aspekte te bespreek. Die skool is in noue kontak met onder meer onderwysersunies om personeelontwikkeling te bevorder en na hul gesondheid om te sien. Deur “Adopt a cop” is die polisie betrokke.

8. Hoe word tegnologie en innovasie gebruik?

Elke klas is met ‘n rekenaar, data-projektor en internetverbinding toegerus.

9. Hoe word veiligheid en sekuriteit op die terrein verseker?

Kameras is in die klaskamers en op plekke op die terrein opgerig, en ‘n hekwag is aan diens. Klem word op die waarde van respek gelê sodat leerlinge veilig voel en selfdissipline handhaaf. Beleide beskerm leerlinge en personeel.

10. Hoe word leerlinge vir toekomstige uitdagings voorberei, hetsy in hoër onderwys, arbeidsmag of in die algemeen?

Kritiese denke word aangemoedig en geleenthede soos op die sportveld en kultuurverhoog berei leerlinge voor om spanning, tydsbestuur, sukses en teleurstelling te hanteer. Nuwe vakke, soos landbou, bied ekstra geleenthede. Die skool word deur tersiêre instellings besoek, en ons bied uitstappies aan om prakties sekere werksomgewings beter te verstaan.

11. Watter eienskappe word in personeel waardeer?

Die vermoë om onder druk as ‘n span te werk, sowel as veerkragtigheid.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article