KIMBERELY – Dr. Zamani Saul wat as Noord-Kaapse premier ook die voorsitter is van die uitvoerende komitee wat maande gelede besluit het om die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley onder administrasie te plaas, het Dinsdag ‘n ommekeer gemaak en aangekondig die Artikel 139(1)(b)-ingryping ingevolge die Grondwet van Suid-Afrika word teruggetrek.
Dit is een van sy vyf nuwe aksies – wat hy “nee’s” genoem het – en ander ingrypings wat hy aangekondig het tydens ‘n inspeksiebesoek saam met amptenare en ingenieurs aan die munisipaliteit se wateronttrekking- en suiweringsaanleg by Riverton langs die Vaalrivier waar grootskaalse herstelwerk aan die gang is.
Water word hier uit die rivier onttrek, gesuiwer en met grootmaatpyplyne na onder meer die Newton-opgaardamme in Kimberley gepomp vanwaar dit versprei word.

Staak litigasie-aksies in munisipaliteit
Die premier het gesê sy tweede nee-aksie is dat alle litigasie-aksies in die munisipaliteit gestaak moet word.
Hy het as provinsiale ANC-voorsitter volgens sy provinsiale sekretaris vroeër vanjaar net ‘n “voorstel” aan sy uitvoerende komitee gemaak om senior advokate aan te stel om met regsgedinge namens die speaker en die burgemeester teen die stadsbestuurder, Thapelo Matlala, voort te gaan. Saul het destyds dié opdrag wat in ‘n uitgelekte skermgreep onthul is, ontken en as kunsmatige intelligensie afgemaak.
“Die afgelope maande het mense oor die Sol Plaatje-munisipaliteit gelag,” het Saul Dinsdag tydens die besoek gesê. “Al wat jy in die media gelees het, was oor die Artikel 139-ingryping, ontwrigte raadsvergaderings waarin raadslede mekaar wil moer, en die aanhoudende litigasie. Dit moet gestaak word.”
Sy woorde kom ná maandelange stilte vanuit sy kantoor oor die munisipaliteit se situasie. Dit het ontstaan nadat Matlala as stadsbestuurder in September verlede jaar geskors is weens beweringe van korrupsie, maar die tugproses is teen Desember ingevolge regulasies nie afgehandel nie.
Daarna het Martha Bartlett, burgemeester, en Dipuo Peters, speaker, Matlala weer onsuksesvol probeer skors. Hy het dit suksesvol in die hof beveg, terwyl raadsvergaderings ook weens ontwrigting ineengestort het.
Verlede week wou Bentley Vass, LUR van samewerkende regering, die Artikel 139-ingryping verskerp en die raad ontbind omdat hulle nie ondersoek instel na “twee verdagte sakelyste” wat Matlala glo by die hof ingedien het nie. Opposisieraadslede het ook by ‘n raadsvergadering uitgestap en die vergadering sonder ‘n kworum gelos.


Weg met ontwrigtende raadsvergaderings
Die ANC loop op dun ys nadat hy vyf van sy eie wyksraadslede weens “ongedissiplineerde gedrag” uitgeskop het. Dié raadslede het in April ondanks die speaker se teenstand saam met die opposisie ‘n virtuele raadsvergadering bygewoon om die nuwe begroting ter tafel te lê.
Hoewel Vass dié vergadering en die besluite daarop onwettig wou laat verklaar, is daardie begroting die een wat wyksraadslede sedert verlede week met wyke bespreek voordat dit aan die einde van die week goedgekeur sal word.
LEES OOK: Intervention in Kimberley’s bulk water supply showing results
Saul sê om die politieke onstabiliteit na institusionele stabiliteit te neem word die Artikel 139-ingryping gestaak sodat die munisipaliteit sy eie sake self bestuur.
“Daar sal nie meer ontwrigtende raadsvergaderings wees nie. Raadslede moet soos volwassenes optree. Dis verkeerd vir ‘n kind om op sosiale media te sien hoe sy pa ‘n ander raadslid wil moer om ‘n geskil op te klaar.
“Politieke speletjies en skorsings moet tot ‘n einde kom. Miljoene rande word op onnodige regsake vermors wat net regslui verryk. Die fokus moet op dienslewering wees.”


Herstel gaan plaasvind
Saul het ook verskeie ingrypingsaksies “vir herstel” aangekondig.
“Vandeesweek gaan die LUR vir samewerkende regering met ‘n veldtog begin om slaggate toe te maak. My dogter, wat ek leer motor bestuur, het haar kop geskud en my aangesê om slaggate reg te maak.
“Verder sal regulatoriese organisatoriese prosesse streng gevolg en streng by institusionele reëls en prosesse gehou word.
“Finansiële verantwoordelikheid en respek rus by ons as leiers. Inwoners moet trots wees op hul munisipaliteit. Ons wil die munisipaliteit se beeld herstel.”
Saul is trots op die vordering wat gemaak is met die opknapping van die ou en die nuwe waterontrekking- en suiweringsaanlegte by Riverton. Die werk word ingevolge die Begrotingstoelae vir Infrastruktuur (BFI) van R2,5 miljard gedoen wat deur die Nasionale Tesourie toegeken is.
Die ou aanleg wat in 1949 geopen en in 1962 uitgebrei is, het ‘n kapasiteit van 54 megaliter-watervoorsiening per dag aan die stad, en die nuwe aanleg wat in die 1970’s gebou is, meer as 100 megaliter per dag.
Vordering met vier fases uitgelig
Die BFI-projek behels vier fases oor etlike jare.
“Fase 1 is reeds 98% voltooi en sluit die opknappingswerk by die ou wateraanleg in. Nuwe pompe, pype en tegnologie is onder meer in werking gestel om intussen water te voorsien sodat verdere opknappingswerk aan die nuwe aanleg gedoen kan word. Fase 2 is 88% voltooi en fase 3 is 27% voltooi. Fase 4, wat die opknapping van die Ritchie-watersuiweringsaanleg behels, is 11% voltooi.”

Saul sê R1,1 miljard is reeds aan die opknappingswerk bestee.
“Voor die werk begin het, het ons met ‘n krisis gesit van meer as 2 000 waterlekkasies, wat daartoe gelei het dat 68% van gesuiwerde water verlore gaan. Intussen is die lekplekke met 1 500 verminder, en waterverliese het van 68% na 38% gedaal, wat laer as die nasionale gemiddelde van 40% is.
“Met die werk gaan ons die daaglikse kapasiteit na 166 megaliter verhoog, wat genoeg water vir die volgende 30 tot 50 jaar is.”
Volgens Saul sal die suksesvolle inwerkingstelling van die projek die weg baan vir opknappingswerk aan die vervalle afvalwater-infrastruktuur.
LEES OOK: ‘Dinge gebeur in Riverton’ om watersekerheid te bevorder
“Die munisipaliteit het reeds voorlopige goedkeuring van die Nasionale Tesourie ontvang vir ‘n verdere R3,5 miljard om sanitasie-infrastruktuur op dieselfde wyse te herstel,” sê Saul.
- Volgens bronne is die BFI-projek van tussen R2,5 miljard en R2,7 miljard deur die Nasionale Tesourie en die departement van water en sanitasie goedgekeur om die munisipaliteit se erg verouderde en vervalle waterinfrastruktuur oor sewe tot agt jaar omvattend op te knap en op te gradeer.
- Fase 1 behels ook die vervanging van die 33 kilometer-grootmaatpyplyn vanaf die Riverton-aanleg na die Newton-opgaardamme. In fase 2 word waterproduksie en watergehalte verbeter.
- Om volhoubare watersekuriteit en drukverspreiding oor die munisipale gebied te verseker behels fase 3 grootskaalse herstelwerk om groot lekkasies by die Newton-opgaardamme en die uitgaande toevoerpyplyne reg te maak. Voorts word opgaardamme opgeknap en skoongemaak om genoegsame reserwes op te bou wanneer die hoofstelsel onderhoud vereis. Nuwe opgaardamme is ook beplan.





You must be logged in to post a comment.