Nog ‘n luukse voertuig, ter waarde van R2,2 miljoen en wat as gesteel aangemeld is, is gevind voor dit uit die land gesmokkel is.
‘n Multidissiplinêre operasie teen smokkelary het Saterdag 25 Julie gelei tot die terugvind van dié wit Toyota Land Cruiser ZX en die inhegtenisneming van ‘n verdagte op die N1 naby Makhado in Limpopo.
Lede van die mulitdissiplinêre span het op inligting – dat ‘n gesteelde voertuig van Gauteng na Limpopo op pad was om deur die Beitbrug-grenspos uit die land gesmokkel te word – die N1 op dié roete dopgehou. Die voertuig is opgemerk terwyl dit noordwaarts naby Makhado gery het, en is gestop.

Die 46-jarige bestuurder is in hegtenis geneem en sal na verwagting op Maandag 27 Julie in die Polokwane-landdroshof verskyn op aanklagte van besit van ‘n vermoedelik gesteelde motorvoertuig en die bestuur van ‘n motorvoertuig sonder ‘n geldige bestuurslisensie.
Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat die voertuig op Saterdag 18 Julie in Benoni, Gauteng, as gesteel aangemeld is.
Nog luukse gesteelde voertuie gekonfiskeer
Enkele dae gelede is ‘n 27-jarige verdagte in Upington in hegtenis geneem vir die besit van ‘n gesteelde voertuig ter waarde van ongeveer R1,5 miljoen. Die voertuig, ‘n 2025-Toyota Land Cruiser Prado, is as gesteel in Woodstock, Kaapstad, aangemeld. Ongeveer 12 uur later, op Donderdag 23 Julie omstreeks 07:30, het polisielede die voertuig in Upington se sentrale sakegebied onderskep en die bestuurder in hegtenis geneem.
LEES OOK: Police arrest suspect, intercept stolen vehicle worth R1,5 million in Upington CBD
Op 9 Julie is ‘n gesteelde Toyota Hilux GD-6-dubbelkajuitbakkie met ‘n geskatte waarde van R1,4 miljoen in die vroeë oggendure by die Vioolsdrif-grenspos in die Noord-Kaap gekonfiskeer, en die 48-jarige bestuurder is in hegtenis geneem.
Die voertuig was na bewering op pad van Suid-Afrika na Namibië.
Hoogs georganiseerde misdaad
Die diefstal en smokkel van duur luukse voertuie vanuit Suid-Afrika na buurlande is ‘n hoogs georganiseerde oorgrensmisdaad. Volgens landmarktracking.co.za is die bestemmingslande van gesteelde voertuie hoofsaaklik Mosambiek, Zimbabwe, Lesotho, Swaziland (Eswatini) en Botswana. Polisiestatistiek toon aan dat meer as 5 000 gesteelde voertuie in 2024 na Mosambiek en Zimbabwe gesmokkel is.
Smokkelaars bestuur of vervoer die voertuie meestal in die nag deur minder-besige grensposte. Volgens ‘n dokument van Mike Bolhuis Specialised Security Services word die gesteelde voertuie ook deur onbewaakte dele van die grenslyn gery, of op selfgemaakte vlotte oor riviere vervoer.
Suid-Afrika se grens wat oor 4 800 kilometer strek en wat met ses buurlande gedeel word – Zimbabwe, Mosambiek, Eswatini, Botswana, Namibië en Lesotho – is ‘n spilpunt vir oorgrensmisdaad weens ‘n gebrek aan fisiese versperrings, personeeltekorte en ontoereikende toesig, aldus die dokument van Mike Bolhuis Specialised Security Services.
Sindikate steel selde luukse voertuie, insluitend 4×4’s, lukraak. Hierdie voertuie word “op bestelling” gesteel om aan spesifieke versoeke van welgestelde kopers, korrupte individue of bedrywighede in bestemmingslande te voldoen.
Gewildste voertuie vir die voertuigsmokkelhandel is Toyota Hilux, Fortuner en Prado, Volkswagen Polo, Ford Ranger, en die Nissan NP200.





You must be logged in to post a comment.