Wetstoepassers moes die afgelope week eiendomme by die voorstrand beskerm. Foto: Danie Hefers

WESKUS – Gemoedere en spanning in Paternoster het hoog geloop nadat lede van die polisie se seegrenseenheid twee mans tydens ‘n klopjag die afgelope Maandag (17 November) in hegtenis geneem het en op verskeie visserskuite beslag gelê het.

Gemeenskapslede én talle mense van buite die dorp meen visserskuite en vissers is die hartklop van Paternoster en dié mense wil bloot net brood op die tafel sit.

Die ongelukkigheid spruit uit ‘n gerug dat gastehuis-eienaars die polisie die betrokke aand oor nagtelike bedrywighede op die strand verwittig het.

Dit het Dinsdag (18 November) tot die opmars na Kenny Cilliers se gastehuis langs die Paternoster-vismark gelei. Die polisie en wetstoepassers moes intree om mense se lewens en private eiendom te beskerm.

Cilliers en sy vrou is weens die woede van die omstanders onder polisiebegeleiding uit die woongebied begelei. Hy word daarvan beskuldig dat hy die een is wat die polisie gekontak het. Volgens Cilliers, wat al jare in Paternoster woon, het hy gewis nie Maandagaand die polisie gebel nie.

“Ek woon al 15 jaar in Paternoster en doen so baie vir die gemeenskap. Hoekom sal ek nou eers wil kla wanneer ek vele kanse gehad het om dit oor die jare te doen?”

Cilliers sê hy het niks teen die vissers nie en glo verwaring oor sy betrokkenheid het ingekom ná ‘n vergadering oor ‘n fees wat in Paternoster gaan plaasvind.

Cilliers sê hy het bloot sy kommer uitgespreek namens inwoners van die Kom-woongebied in verband met die fees. Cilliers staan by sy woord dat hy onskuldig is en beskou die aantygings as vals. Die vissers meen hulle is al dekades lank in die dorp bedrywig en doen eerlike werk om ‘n inkomste te verdien.

Nog ‘n inwoner van die Weskus meen die vissersgemeenskap word geminag en dat visvang nog al die jare deel van hul tradisie is.

“Wanneer dit by die inkommers kom, het hulle soveel disrespek vir ons kultuur en erfenis.”Ek doen ‘n beroep dat inkommers in ons dorpe ons tradisies en kulture moet respekteer.”

Op sosiale media het mense ook hul opinies gelug en meen die vissers doen niemand leed aan nie. Een meen die vissermanne moet uitgelos word.

“Hulle was hier lank voor almal en pla niemand nie. Dit is ‘n vissersdorpie en die hartklop van die Weskus. Respekteer die mense wat uit die see leef; hulle is die siel van hierdie plek. Almal ken Paternoster se voorstrand met sy bootjies, vis en kreefbedrywighede. Dit is immers ‘n inkomste vir hulle.”

Kapt. Tania Helfrich, die distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, het beaam dat Maandagaand se optrede bloot ‘n roetine-klopjag was om onwettige visvang- en kreefsmokkel-bedrywighede die hoof te bied.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article