‘n Onsigbare siekte wat weggesteek word, word vandag (19 Mei) aan die lig gebring op Wêreld Inflammatoriese-dermsiektedag (IBD).
Sr. Karin Davidson, verpleegspesialis in IBD wat al 14 jaar met die siekte werk, beskryf dit soos volg: “IBD is die sambreelnaam vir Crohn se siekte (CD) en ulseratiewe kolitis (UC). Dit is outo-immuunsiektes van die dermkanaal waar die dermslymvliesvoering ontsteek is, wat ulserasie en gastro-intestinale simptome soos krampe, diarree en rektale bloeding veroorsaak. Aangesien dit outo-immuunsiektes is, kan hulle ook organe buite die derm beïnvloed, soos die gewrigte, oë en vel.”
Davidson is ook ‘n direkteur van Autoimmune Alliance en dien in die raad van IBD Africa, albei niewinsgewende organisasies wat verbind is tot navorsing, voorspraak en opvoeding.
CD en UC staan bekend as siektes van verstedeliking. Die ouderdomsgroep wat die meeste geraak word, is die 20- tot 40-jariges, maar daar is ‘n definitiewe verskuiwing na meer kinders wat gediagnoseer word. Die IBD Africa-register toon 2 183 inskrywings vir die Wes-Kaap en 4 187 vir Suid-Afrika as geheel.
“Dit is geensins ‘n aanduiding van die aantal mense wat met die siekte leef nie, maar eerder ‘n weerspieëling van hoe dringend ons plaaslike data vir hierdie siekte benodig,” verduidelik Davidson.
Een van die mense wat met IBD leef, is Chante Fransman (29), ‘n ma van twee dogters, wat al 15 jaar teen CD veg.

Fransman het haar ma verloor toe sy ses jaar oud was en is deur familie in die Strand grootgemaak. Op 12-jarige ouderdom het haar liggaam simptome begin toon.
“Dit voel soos ‘n virus wat binne-in jou liggaam vreet. Dit bly nie net by jou derm nie – dit versprei,” verduidelik sy.
Die pad na diagnose
Dit het begin met maagpyne en sy het na die kliniek gegaan, maar hulle het haar huis toe gestuur. Die pyne het egter vererger.
Vir drie jaar kon sy nie behoorlik eet nie en haar liggaam het begin verswak. Uiteindelik het ‘n private dokter haar na Tygerberg-hospitaal verwys, waar CD amptelik by haar op 15-jarige ouderdom gediagnoseer is. Haar eerste operasie het ook daar plaasgevind toe ‘n stuk van haar derm verwyder moes word.
“Ek was vel en been en het letterlik by die dood omgedraai.”
Die onsigbare emosionele las
Die siekte het haar jeugjare ingrypend beïnvloed. Sy het ‘n hele jaar van skool weens hospitalisasie misgeloop. In haar volwasse lewe kon sy nie stabiele werk behou nie, want die siekte kan enige oomblik toeslaan.
Fransman word nie net fisiek geraak nie – ook haar geestesgesondheid ly daaronder.
“Ek loop al agt jaar met my sak. Mense kan dit nie sien nie, maar dit is elke dag my lewe,” verduidelik Fransman. “Dit veroorsaak dat ek soms voel ek wil net alleen wees en asof niemand vir my omgee nie.”
Volgens Davidson het sowat 30% van mense wat met IBD leef, angs of depressie.
“Die impak van IBD op geestesgesondheid word aansienlik verswyg en onderbehandel,” sê Davidson.
Vroue en IBD
Vroue met IBD word ook deur unieke uitdagings in die gesig gestaar. Aktiewe IBD kan swangerskap en geboorte beïnvloed, en vroue het ‘n hoë risiko vir ystertekort-bloedarmoede. Seksuele gesondheid is ook ‘n faktor – 45–60% van vroue met IBD het seksuele disfunksie.
En Fransman kan getuig – bo alles raak die siekte haar vroulikheid.
“My menstruasiepyne is moeilik omdat my derm buite is – as my maandstonde kom, is ek inmekaar gevou van die pyn.”
Maar midde-in haar lyding was daar ook goeie oomblikke. In 2018, terwyl sy in remissie was, het sy swanger geraak met haar oudste dogter – vir haar ‘n wonderwerk. Ongelukkig het die siekte teruggekeer, en ná die geboorte was sy vir byna ‘n jaar in die hospitaal.
“Haar eerste verjaarsdag het ek in die hospitaal gevier.”
Sy het in 2023 die lewe geskenk aan haar jongste dogter – ‘n tyd wat sy beskryf as een van haar swaarste periodes van depressie.
“Dit beteken vir my alles om ‘n ma te wees. Ek het sonder ‘n ma grootgeword – dis hoekom ek, baiekeer as ek voel om op te gee, aan hulle dink.”

Vandag woon Fransman in Bettysbaai, maar die siekte het haar gevolg. Haar immuunstelsel is so gekompromitteer dat selfs die kleinste stres ‘n episode kan veroorsaak.
“Op die oomblik is daar ‘n laaste opsie – medikasie wat van oorsee af kom, maar daar is ook nie ‘n waarborg dat dit sal werk nie.”
As dit nie werk nie, sal dokters ‘n laaste operasie moet uitvoer – ‘n ingrypende stap wat beteken sy sal haar liggaam soos sy dit ken, permanent verloor. Maar Fransman gee nie moed op nie.
“Hoeveel keer het ek nie by die dood omgedraai nie – en God het my gered.”
‘n Roep om bewusmaking
“CD en UC is lewenslange, verwoestende siektes wat ‘n groot impak het, nie net op die pasiënt nie, maar ook op hul families,” sê Davidson.
Sonder bewusmaking sal baie mense in die donker bly – en steeds ly.
“Hulle word dikwels onderdiagnoseer, die diagnose word vertraag, en pasiënte ontvang nie die mediese en geestelike ondersteuning wat hulle benodig nie,” sê Davidson.
Vir meer inligting oor IBD, besoek IBD Africa se webwerf: https://ibdafrica.org/
Fransman het ‘n BackaBuddy-veldtog gestig om geld in te samel vir haar laaste medikasie-opsie.
Om haar te ondersteun, besoek: www.backabuddy.co.za/campaign/crohns-warrior







You must be logged in to post a comment.