KIMBERLEY – Met vasberadenheid, konsentrasie en in spandrag het bejaardes vanjaar se Golden Oldies-kampioenskap aangepak, elkeen met die vaste oortuiging om elke speletjie so goed moontlik af te handel.
Met dié kampioenskap op Vrydag 17 Oktober by die Acaciapark-aftreeoord in Kimberley was bejaardes van talle aftree-oorde in spanne gedeel. Saam het elk van die 18 spanne die speletjiespunte benader en mekaar aangemoedig. Aan toeskouers wat elke beweging dopgehou het, was daar ook nie ‘n tekort nie.

Veerpyltjies gooi na ballonne op ’n draaiende wiel, skyfskiet en metaalvissies met ‘n magneet vang, was van die take wat teen tyd uitgevoer moes word. Om suksesvol te wees, verg nie net hand-oog-koördinasie nie, maar ook fyn motoriese beweging en balans.
Die Yonder 1-span is as die wenners aangewys, met Huis Heldersig 1 van Griekwastad tweede, en Galeshewe Association for the Care of the Aged (Gaasca) 2 in die derde plek. Acacia 1 was vierde, en Stillerweë 2 vyfde.

Bevorder gesonde leefstyl, stimuleer breinaktiwiteite
Soos voorheen is die geleentheid deur die Noord-Kaap-streek van die Vereniging vir Demensie en Alzheimer se siekte in Suid-Afrika (Adasa) aangebied.
Nie net bevorder dit ‘n gesonde leefstyl en sosiale interaksie onder bejaardes en tussen verskillende aftree-oorde nie, maar wakker dit aktiwiteite aan wat die brein stimuleer, sê Emsie Malan, Adasa-streekbestuurder. Boonop skep dit bewusmaking van ondersteuning wat Adasa kan verskaf.
LEES OOK: Kennis is mag: Oorwin onkunde oor demensie en Alzheimer se siekte
Die geleentheid volg op Wêreld Alzheimer-maand wat jaarliks in September plaasvind, met vanjaar se tema “Ask about dementia – Ask about Alzheimer’s”. Adasa is van mening dat kennis mag is, en dat elke gesprek hieroor ‘n verskil kan maak.



Demensie beskryf ’n groep simptome wat met ’n afname in geheue, redenasie of ander denkvaardighede verband hou. Verskillende soorte demensie bestaan, met Alzheimer se siekte een van die mees algemene vorms.
Navorsing toon dat die handhawing van ’n gesonde leefstyl iemand se kans om demensie op te doen, verminder. Dit sluit in gereelde oefening, ’n gebalanseerde dieet, genoeg slaap, om sosiaal aktief te bly, en aktiwiteite wat die brein stimuleer soos lees en blokkiesraaisels invul.
Besoek adasa.org.za vir meer inligting.
LEES OOK: Goue Oues ding mee in spele




You must be logged in to post a comment.