Mis in veld ‘n goeie oplossing om wild in reservate te tel

'n Koedoe in die veld. FOTO: Unsplash
‘n Koedoe in die veld. FOTO: Unsplash

Mis in veld ‘n goeie oplossing om wild in reservate te tel


‘n Studie deur ‘n nagraadse student oor hoe mis gebruik kan word om die getalle en spesies in ‘n wildreservaat te bepaal, bied nou nuwe hoop vir wildbewaring.

Ruan Jacobs, ‘n doktorsgraadstudent van die departement van genetika aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), glo sy studie sal ‘n oplossing wees vir een van die groot uitdagings van reservate – hoe om akkuraat telling te hou van spesies in digte bosse of net saans sigbaar is.

In die studie wat heel moontlik ‘n eerste in Suid-Afrika is, kon navorsers korrek die grootte van ‘n koedoe-populasie bepaal deur DNS wat uit dié bokke se mis verkry is.

Van links is dr. Morne du Plessis en prof. Paul Grobler en regs is Ruan Jacobs
Van links is dr. Morne du Plessis en prof. Paul Grobler en regs is Ruan Jacobs in die Doornkloof-wildreservaat waar die navorsing gedoen is. FOTO: UV

Jacobs wys met sy navorsing dat getalle bepaal kan word sonder die vang en hantering van diere of selfs om hulle te sien. Sy bevindinge is onlangs in die African Journal of Wildlife Research gepubliseer.

Hoewel Jacobs se studie op koedoes gefokus het, kan dit uitgebrei word na meer as een spesie. Die navorsers glo die benadering kan eendag help om ontwykende en bedreigde diere te monitor wat moeilik is om met konvensionele metodes te tel. Dit sluit spesies soos aardvarke, bruin hiënas, rivierhase, vlermuisoorjakkalse en klein wildekatte in.

Ruan Jacobs versamel mis in die veld op die wildreservaat in die Noord-Kaap.
Ruan Jacobs versamel mis in die veld op die wildreservaat in die Noord-Kaap. FOTO: UV

“In plaas daarvan om die dier te vind, vind ons sy DNA,” sê Jacobs. “Mis, hare en ander spore wat agterbly, bevat genoeg DNS om die spesie, die individu en selfs sy geslag te identifiseer – alles sonder om ooit die dier te steur.”

Hy verduidelik elke dier dra ‘n unieke genetiese ‘vingerafdruk’. Deur herhaaldelik vars mismonsters te versamel en daardie vingerafdrukke te vergelyk, kon die navorsers identifiseer wanneer dieselfde koedoe se mis gevind is. Dit het hulle in staat gestel om die totale aantal diere in die reservaat te skat sonder om hulle fisiek vas te vang, te merk of selfs te sien.

Mis word gebruik om hoeveeldheid koedoes in 'n gebied te tel.
Mis word gebruik om hoeveeldheid koedoes in ‘n gebied te tel. FOTO: Verskaf

Die benadering bied ook baie meer as net ‘n bevolkingsskatting. Dieselfde mismonster kan ‘n dier se geslag openbaar en waardevolle inligting oor die gesondheid van ‘n bevolking verskaf.

“Sodra jy die fekale monsters het, kan jy ook bykomende parameters bestudeer. Jy kan byvoorbeeld begin kyk na wat diere eet en watter parasiete hulle dra,” sê Prof Paul Grobler, professor aan die UV se departement genetika en Jacobs se PhD-begeleier.

Die navorsing is gedoen op die Doornkloof-natuurreservaat in die Noord-Kaap, waar die bestaande koedoe-populasie se beraamde tetalle die ideale situasie gebied het om die DNS-gebasseerde benadering te toets.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article