PAARL – Die Paarl-Oos-polisie sê hy ondersoek ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur nadat ‘n minibus-taxi wat skoliere vervoer, Maandag (17 November) in ‘n ongeluk op die Sonstraalpad betrokke was.
Altesaam vyftien leerlinge van die New Orleans Sekondêre Skool is beseer toe die minibus omgeslaan het, lui ‘n verklaring deur die Drakenstein-munisipaliteit.
Volgens kapt. FC van Wyk, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het die ongeluk omstreeks 07:30 plaasgevind.
“Die omstandighede rondom die ongeluk is in die stadium nog onduidelik. Verskeie nooddienste is na die toneel uitgeroep.
“Die Paarl-Oos-polisie het ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur ge-open,” het Van Wyk by navraag aan Paarl Post gesê.

Die Drakenstein-munisipaliteit, wat sy brand- en verkeersdienste na die ongelukstoneel ontplooi het, het in ‘n verklaring bevestig dat die bussie na die New Orleans Sekondêre Skool in Paarl-Oos onderweg was.
“Drakenstein-munisipaliteit se afdeling vir openbare veiligheid het onmiddellik op die toneel gereageer.
“Ongelukkig het twee leerders ernstige beserings opgedoen, terwyl ses leerders lig beseer is.
“Hoewel die bestuurder en die ander ses leerders ongedeerd gelyk het, is hulle almal per ambulans na die hospitaal vervoer.
“Ons dink aan die leerders, hul families en almal wat deur hierdie voorval geraak is,” lui die verklaring.
Volgens die munisipaliteit is die wrak van die minibus-taxi intussen verwyder en die pad is weer oop vir verkeer.






You must be logged in to post a comment.