children sitting in the classroom
Kinders en skole word ernstig benadeel deur departementele geld wat nie oorbetaal word nie. FOTO: Ron Lach / pexels.com

Hoe bedryf jy ’n skool met net sowat R6 per kind per dag? Dit is die vraag wat talle skole sal moet beantwoord weens provinsiale onderwysdepartemente wat vir die soveelste keer versuim het om hulpbrontoewysings betyds aan skole te betaal.

“Net drie provinsies het alle uitstaande betalings aan skole gemaak voor of op die sperdatum van 15 November. Slegs die provinsiale onderwysdepartemente in die Wes-Kaap, Noordwes en die Vrystaat het hul grondwetlike plig teenoor ons kinders nagekom. Die ander 66% van die provinsies druip weer,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die skoolbeheerliggaam-organisasie Fedsas.

Ingevolge die Nasionale Norme en Standaarde van Skoolbefondsing moet provinsiale onderwysdepartemente hierdie hulpbrontoewysings twee keer per jaar (voor 15 Mei en voor 15 November) aan openbare skole oorbetaal. Skole gebruik dit vir die aankoop van skryfbehoeftes en handboeke, betaling van munisipale rekeninge vir water en elektrisiteit en ander kostes verwant aan die bedryf van ’n skool.

Deacon sê hierdie patroon van onbevoegdheid herhaal elke ses maande sonder enige gevolge vir provinsiale onderwyshoofde en amptenare.

“In die Noord-Kaap het skole nou eers die eerste gedeelte van die 2025-oorbetalings ontvang. Alle oorbetalings tot dusver was gelde verskuldig uit die 2024-begroting. Skole in dié provinsie het nou sowat 20% van die 2025-oorbetaling ontvang, wat beteken die nuwe skooljaar begin sonder dat die vorige jaar se oorbetalings afgehandel is.”

In die meeste provinsies was daar ’n gedeeltelike betaling.

“Maar vir ’n skool wat nie skoolfonds mag hef nie en in elk geval slegs R8,77 per kind per dag ontvang, tel elke sent. As 25% hiervan teruggehou word, is die bedrag van R6,57 per kind per dag ’n klap in die gesig van ons kinders.”

‘Skande dat so min geld by skole uitkom’

Deacon sê onderwysbesteding is een van die grootste uitgawes wat deur die parlement goedgekeur word.

“Dit is ’n skande dat so min van hierdie geld by skole uitkom. Ons sal ernstig moet besin oor hierdie lomp, duur struktuur, met te veel amptenare en te min opvoeders en ondersteuning vir skole.”

Die inwerkingstelling van die verpligte gr.R stuur ook op ’n reuse-krisis af, met geen bykomende fondse in provinsies om hierdie Bela-wysiging te implementeer nie.

“President Ramaphosa het duidelik die verkeerde inligting ontvang toe hy die volle wysigingswet in werking laat tree het. Ons voorsien dat skole, skoolhoofde en beheerliggame volgende jaar gaan bontstaan om oplossings te vind vir die gevolge van politici se swak besluitneming en beplanning.”

Indien die wiele op nasionale vlak begin rol, is daar geen versekering dat provinsiale onderwysdepartemente hul kant sal bring nie.

Kinders, skole word benadeel deur sistemiese verval

“As die oorbetaling van hulpbrontoewysings die maatstaf is, laat dit kommer ontstaan oor hoe bykomende fondse bestuur sal word. Dan praat ons nie eens van die sowat R150 miljoen wat onderwysdepartemente vanjaar moes terugbetaal omdat dit bloot net nie bestee is nie.”

Deacon sê die minister van basiese onderwys sal die sweep onder LUR’e moet klap wat toelaat dat skole en kinders benadeel word. Die oorsigrol rus ook op die president, wat met die premiers moet skakel. Selfs die parlement se portefeuljekomitee het kinders vanjaar in die steek gelaat deur nie na die kernfunksies van departemente te kyk nie.

“Die sistemiese verval strek wyer as nasionale en provinsiale onderwysdepartemente en die slagoffers is ons kwesbare kinders en daarmee saam die toekoms van ons land,” sluit Deacon af.

LEES OOK: MENING | Die instel van verpligte gr. R ‘dapper stap’ maar skep kwelpunte

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article