TygerBurger

Optog deur Goodwood en Parow gehou ter ondersteuning van 16 Dae van Aktivisme-veldtog

Lede van die Goodwood- en Parow-polisie lei die optog deur Voortrekkerweg Dinsdag ter ondersteuning van die 16 Dae van Aktivisme-veldtog.
Lede van die Goodwood- en Parow-polisie lei die optog deur Voortrekkerweg Dinsdag ter ondersteuning van die 16 Dae van Aktivisme-veldtog.

Sowat 50 mense het Dinsdag in Goodwood en Parow aan ‘n vreedsame optog ter ondersteuning van die 16 Dae van Aktivisme-veldtog deelgeneem. Die veldtog teen geweld teen vroue en kinders word jaarliks tussen 25 November en 10 Desember gemerk.

Die groep het van die Goodwood-polisiekantoor in Wienerstraat, Goodwood, tot by die Parow-polisiestasie in Arnold Wilhelmstraat geloop en is deur ‘n konvooi begelei wat die polisie, wetstoepassingeenheid, Metro-polisie, die VRCID en privaat-sekerheidsmaatskappye ingesluit het.

Die optog is geopen met ‘n gebed in die parkeerterrein van die polisiekantoor voordat die groep in Voortrekkerweg begin stap het.

Die optog in Goodwood en Parow ter ondersteuning van die 16 Dae van Aktivisme-veldtog.
Van die mense wat aan die vreedsame optog deelgehad het, het ook plakkate om hoog gehou. Credit: Richard Roberts

Babalwa Ntintishe, ‘n maatskaplike werker van die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling, het die groep toegespreek.

Sy het genoem dat die oortreders van geslagsgebaseerde geweld selde aan die pen ry omdat die slagoffers die sake gewoonlik terugtrek.

“Ons moedig hulle aan om dit nie te doen nie,” sê sy.

Ntintishe sê die departement het ‘n program waarby oortreders kan baat.

“Ons moet hieroor praat.

“Sommige vroue wil nie, omdat hulle afhanklik is van die oortreder, daarom word sake ook teruggetrek,” sê Ntintishe.

Die departement se kantoor is in Goodwood, maar dit dien onder meer Leonsdale, Parow, Ravensmead en Goodwood.

Pamflette, met inligting rakene dié euwel en waar slagoffers om hulp kan aanklop, is ook tydens die optog aan lede van die publiek uitgedeel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article