Baba verlate gevind
‘n Pasgebore baba is onder ‘n bos in Fordstraat verlate gevind. Foto: verskaf

MALMESBURY – ‘n Pasgebore baba is in temperature van nagenoeg 33 ֯C in ‘n rustige woonbuurt vermoedelik deur die ma onder ‘n bos in Malmesbury gelos. Die seuntjie van slegs vier dae oud is laat Sondagaand (23 November) deur inwoners van dié woonbuurt ontdek.

Die ontdekking kom nadat ‘n man reeds die Vrydagaand (21 November) ‘n babatjie buite hoor huil het, maar aangeneem het dit is een van die hawelose mense wat buite met ‘n baba sit. Hy het wel sy vrou daarvan vertel.

Volgens die egpaar het hulle laat Sondagaand wéér ‘n baba hoor huil. Die vrou het ondersoek ingestel en die baba onder ‘n bos naby hulle huis in Fordstraat gevind.

Baba verlate onder bos in rustige woonbuurt in Malmesbury gevind.
Die plek onder die bos in Fordstraat, Malmesbury waar die babaseuntjie ontdek is. Foto: verskaf

Die baba is kort daarna na die Swartland-hospitaal vir ‘n deeglike mediese ondersoek en verdere behandel geneem, voeg die plaaslike polisiewoordvoerder sers. Henry du Randt by.

“‘n Kriminele saak van kinderverlating is oopgemaak en word tans deur die kinderbeskermingseenheid ondersoek,” brei Du Randt uit.

Die polisie het Maandag na die ma van die betrokke baba begin soek. Die ondersoek het die polisie tot so ver as Fisantekraal geneem, omdat die ma ‘n adres in Fisantekraal tydens geboorte in die Swartland-hospitaal opgegee het. 

Die polisie het egter Dinsdag (25 November) te midde van die 16 van aktivisme-veldtog teen geweld teen vroue en kinders ‘n deurbraak gemaak waar ‘n 25-jarige vrou in Ilingelethu in hegtenis geneem is.

Volgens die polisie is die ma glo dieselfde dag van die hospitaal ontslaan nadat die baba die vorige dag gebore is. Die ma verskyn môre (27 November) in die plaaslike landdroshof in Malmesbury op aanklagte van kinderverlating.

LEES OOK: Court orders baby kidnap suspect to remove religious veil for police ID checks

Die baba, wat erg gedihidreer was, is steeds in die hospitaal en sterk tans goed aan.


Daar is nie enige sentrums op Malmesbury waar babas veilig afgegee kan word nie. Volgens owerhede kan ‘n ma die betrokke hospitaal, maatskaplike dienste of selfs die ACVV nader indien hulle nie die baba wil hê nie.

“Indien bogenoemde kantore geraadpleeg word sal die baba vir aanneming in aanmerking kom,” voeg Du Randt by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article