Die ouma van die driejarige seun wat weke gelede in Elsiesrivier deur ‘n vermoedelik dronk bestuurder doodgery is, het haar hart op Facebook uitgestort.
Khy’ree Jordaan het op 9 November op die sypaadjie voor die huis in Alard-weg saam met maatjies op die sypaadjie gesit toe hy deur ‘n motor raakgery is, wat toe van die toneel af weggejaag het.
‘n Munisipale wetstoepasser het hom na die voorval aan die polisie oorgegee, maar moet nog in die hof verskyn.

Brein kan nie aanvaar nie
Jolene Jordaan, Khy’ree se ouma, skryf op Facebook sy kan nie meer nie. “My brein weet jy is weg, maar my hart wil nie verstaan nie. My hart wil nie verstaan hoekom God jou sommer so kan wegneem nie. Ek kan nie eens meer huil nie, want my hart sê jy is nog hier. Ma verlang so baie na jou, jy was my baba,” skryf sy.
In sommige van die plasings is sy duidelik kwaad vir die verdagte wat sy ‘n “moordenaar” noem.
In ander plasings is daar video’s waar Khy’ree vrolik saam met musiek sing, terwyl hy koeldrank drink.
Intussen is die saak na ‘n senior staatsaanklaer verwys om ‘n besluit oor vervolging te neem.
TygerBurger het na die woordvoerder van die Stad se wetstoepassers uitgereik om te bepaal of die beweerde oortreder nog in diens is of geskors is en of daar dissiplinêr teen hom opgetree gaan word. Sodra ons kommentaar ontvang, sal dit bygewerk word.



