BLOEMFONTEIN – Die Mangaung-metro het die afgelope vyf boekjare meer as R1,6 miljard se water verloor.
Die Vrystaatse LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta), Saki Mokoena, het dié syfers bekend gemaak in antwoord op ‘n vraag van die VF Plus in die Vrystaatse wetgewer tydens ‘n sitting verlede week.
Die verliese word hoofsaaklik veroorsaak weens lekkasies en swak infrastruktuurinstandhouding oor die afgelope drie dekades onder ANC-bewind.
Die verliese het dramaties toegeneem
Uit die LUR se antwoord is dit ook duidelik dat die verliese dramaties toegeneem het van R186 miljoen in 2018/19 tot ‘n skokkende R454 miljoen in 2022/23.
Intussen beloop Mangaung se skuld aan Vaal Sentraal Water meer as R900 miljoen.
In ‘n vorige antwoord op ‘n VF Plus-vraag het Mokoena ook aangedui dat die totale waterverliese vir die hele Vrystaat oor dieselfde tydperk meer as R7 miljard beloop.
Die ANC-beheerde munisipaliteit bestee meer aan salarisse
Terwyl inwoners jaarliks meer vir dienste moet opdok, bestee die ANC-beheerde munisipaliteit meer aan salarisse en minder aan broodnodige infrastruktuurinstandhouding.
Die enigste manier om die Vrystaat te herstel is om van die ANC ontslae te raak in die komende verkiesing.
LEES OOK: Vrystaat premier mors geld terwyl dienste ly
Armand Cloete, VF Plus-LWP: Vrystaat, sê sy party staan gereed om finansiële orde en dissipline te herstel, sodat belastinggeld beskerm word en dienslewering in Mangaung die prioriteit word.
Verder blyk dit uit ‘n verklaring deur Manie Pretorious, VF Plus-raadslid in Matjhabeng dat ten spyte daarvan dat duisende inwoners van Ventersburg en Mmamahabane al vir meer as drie maande met onbetroubare watertoevoer sukkel, verkies die ANC-geleide Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit om eerder R55 miljoen aan ‘n sportstadion in Thabong te bestee.

In ‘n verklaring sê Pretorius inwoners en ondernemings in die hoër dele van Ventersburg gaan sedert 11 Januarie gebuk onder ernstige water tekorte.
“‘n Versterkerpomp wat hierdie gebiede moet bedien, staan al vyf jaar buite werking terwyl dit teen slegs R120 000 herstel kan word. Al drie boorgate is boonop buite werking met twee wat gevandaliseer is en een wat weens swak vakmanskap ineengestort het. Daar is ook geen noodwatervoorsiening of watertenks om die krisis te verlig nie,” sê Pretorius.
Vulstasies en ondernemings kon nie basiese dienste lewer nie
Die situasie het ‘n hoogtepunt bereik oor Paasnaweek, toe vulstasies en ondernemings langs die N1 nie eens basiese dienste kon lewer nie. Dit het direk tot groot inkomste verliese gelei.
“Nogtans het die raad die VF Plus se voorstel verwerp om die R55 miljoen wat vir ‘n stadion in Thabong begroot is, eerder te gebruik om die waterkrisis op te los. Die burgemeester, Thanduxolo Khalipha, het bloot onderneem om te sorg dat die munisipaliteit saam met Vaal Sentraal Water na oplossings sal kyk.”
Pretorius sê die ANC se keuse om ‘n stadion bo water te prioritiseer, wys duidelik dat sy prioriteite nie by die inwoners van Ventersburg lê nie.
“Gereelde besoeke en leë beloftes deur ANC-ministers van water en sanitasie die afgelope paar jaar, is verdere bewys daarvan. Water is nie ‘n luukse nie, maar ‘n basiese mensereg. Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen totdat hierdie krisis opgelos word. Inwoners verdien water, nie leë beloftes nie,” sê hy.



You must be logged in to post a comment.