Die Bram Fischer-gebou, setel van die Mangaung-metro in Bloemfontein. FOTO: Lientjie Mentz
Die Bram Fischer-gebou, setel van die Mangaung-metro in Bloemfontein. FOTO: Lientjie Mentz

Mangaung-metro se geldsake deur SIU ondersoek


BLOEMFONTEIN – Die Mangaung-metro word nou formeel ondersoek nadat ‘n presidensiële proklamasie Vrydag 31 Julie uitgereik is waarop die Spesiale Ondersoekeenheid (SIU) opdrag ontvang het.

Dit sluit bewerings van wanadministrasie, korrupsie, onregmatige verkryging en geldelike wanbestuur in.

In die kennisgewing in die staatskoerant sluit die ondersoek sake in soos die stigting en bestuur van die Mangaung-metro se metropolisie asook die oorbetaling van die metro se verskaffers in finansiële state.

Daar word melding gemaak ongeruimdhede met die opgradering van die kantoorruimte vir die metropolisie in die Gabriel Dichabe-gebou en agt Toyota Carollas wat in die naam van die metro-polisie geregistreer is. Verder word daar ook ondersoek ingestel na die aankoop van ‘n brandweerwa vir die metro-polisie.

Ondersoek word ook gevra in die aanstelling van ‘n paneel kontrakteurs vir die bou van roetes vir die munisipaliteit se Geïnegreerde Openbare Transportnetwerk (die Hauweng-busdiens).

Vir perspektief het die munisipaliteit van George R1,7 miljard gebruik en 65 busse te koop en is 34 roetes ingestel. Vir dieselfde bedrag het Bloemfontein slegs 10 Hauweng-busse wat op twee roetes in Bloemfontein diens doen.

Die ondersoek sal bewerings onder die soeklig stel wat plaasgevind het tussen 1 Oktober 2016 tot 31 Julie 2026, maar ook bewerings voor of ná die ondersoek.

Sello More, die metro se stadsbestuurder wat ook nou dissiplinêr ondersoek word, het ‘n nuusverklaring uitgestuur waarin hy sê die metro neem kennis van die proklamasie en die ondersoek. “Ons erken en respekteer die mandaat van die SIU om ondersoek in te stel na bewerings van wanadministrasie, korrupsie en ander onwettige optrede binne die wet,” het More in sy verklaring gesê.

More het ook vroeg in Julie ‘n Skuldsertifikaat van die Ouditeur-generaal ontvang wat hom as rekeningkundige beampte aanwys. Dit beteken die AG hou More direk persoonlik aanspreeklik vir finansiële verliese wat veroorsaak is deur sy versuim om staatsfondse te verhaal. Hierdie skuldsertifikaat kan nie van een rekeningkundige beampte na ‘n ander oorgedra word nie.

Dit is vir R2,2 miljoen wat die metro aan kontrakteurs betaal het wat nooit aan die projekte gewerk het waarvoor hulle betaal is nie. In sy persoonlike hoedanigheid is hy aanspreeklik vir die bedrag, wat saam met rente nou R2,9 miljoen beloop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article