BLOEMFONTEIN – Onderhandelings en vergaderings ten spyt, AfriForum gaan voort met sy versoekskrif dat die stadsbestuurder van die Mangaung-metro, Sello More, moet bedank.
AfriForum het reeds op 23 April met ‘n versoekskrif begin. Intussen het onderhandelings plaasgevind, vergarderings is met More en sy personeel gehou en beloftes is gemaak, maar volgens AfriForum blyk dit alles net ‘n rookskerm te wees.
Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, sê in ‘n nuusverklaring swak dienslewering duur voort, infrastruktuur verval en daar is steeds geen aanspreeklikheid vir hierdie mislukkings nie.
“Ons doen opnuut ’n beroep op die munisipale bestuurder om uit sy amp te bedank. Openbare vertroue in die metro se vermoëns het verder gekwyn sedert More se aanstelling,” sê Groenewald.
Goeie voornemens misluk teleurstellend
More het AfriForum op 11 Mei vanjaar genooi om ’n vergadering by te woon nadat die organisasie die aanlyn versoekskrif begin het om te eis dat More uit sy amp moet bedank weens die voortslepende probleme in dié metro.
Op dié vergadering het verskeie afdelingshoofde van die metro hul onderskeie finansiële en operasionele uitdagings verduidelik en volgens Groenewald die toestand van die munisipaliteit probeer regverdig. Die metro het ook voorgestel dat daar maandelikse vergaderings tussen die metro en AfriForum gehou word om samewerking te bevorder en ’n memorandum van ooreenkoms tussen die partye op te stel.

AfriForum het die uitnodiging in goeie trou aanvaar en die voorgestelde memorandum van ooreenkoms aan die metro oorhandig en elektronies versend. Op 20 Mei het AfriForum verder skriftelik opgevolg rakende ’n volgende vergadering en die dokumentasie wat die metro onderneem het om te verskaf, insluitend aksieplanne, finansiële verslae en ander bestuursdokumente wat inwoners se vertroue in die metro se vermoë om sy uitdagings op te los, sou kon herstel. Groenewald sê egter AfriForum het geen terugvoering ontvang nie.
Groenewald sê in die verklaring AfriForum meen dat hierdie stilswye inwoners se jarelange ervarings bevestig: Die metro luister nie na die mense wat die gevolge van sy mislukkings moet dra nie.
Inwoners hou egter aan om hul stem dik te maak oor vervalle infrastruktuur, swak dienslewering, water- en rioolprobleme en finansiële wanbestuur.
“Die metro maak leë beloftes en hou vergaderings wat uitloop op niks.”
LEES OOK: AfriForum eis bedanking van Mangaung se stadsbestuurder
‘Intussen gaan die verval voort’
Hy sê die metro het self die vergadering versoek.
“Die metro het self voorgestel dat daar voortgesette samewerking moet wees. Die metro het self onderneem om dokumentasie en terugvoer te verskaf. AfriForum het elke stap in goeie trou gevolg. Die feit dat daar daarna geen terugvoering of reaksie gevolg het nie, bewys presies waarom inwoners hul vertroue in die metro verloor het,” sê Groenewald.
AfriForum beskou die vergadering en die daaropvolgende proses as nutteloos, aangesien dit geen tasbare uitkoms, geen daadwerklike optrede en geen voordeel vir die gemeenskap opgelewer het nie.
“Intussen gaan die verval van Mangaung voort en word inwoners aan hul eie lot oorgelaat.”
Hy sê AfriForum is steeds bereid om met die metro te vergader indien dié gesprekke sal lei tot daadwerklike optrede en verbetering vir die gemeenskap.
“Die organisasie sal egter nie deel wees van prosesse wat daarop gemik is om kritiek te paai, die publiek gerus te stel of die indruk van vordering te skep terwyl dienslewering verder verswak nie.
“Die tyd vir mooi praatjies is verby. Inwoners het resultate nodig. AfriForum sal slegs deel wees van prosesse wat werklike verandering vir die gemeenskap meebring.
“Vertroue word deur optrede verdien. Die metro se optrede het die teenoorgestelde bereik. Die gemeenskap van Mangaung verdien beter as ’n bestuur wat nie luister nie, nie reageer nie en nie resultate lewer nie.”






You must be logged in to post a comment.