Die koperketels borrel en die gees van kuier, kultuur en tradisie hang swaar in die lug – die jaarlikse Mampoerfees by die Voortrekkermonument is om die draai. Hierdie gewilde fees, wat vanjaar op 6 Junie plaasvind en jaarliks duisende besoekers lok, beloof om nóg groter en lekkerder te wees.
Met nuwe kampioenskapklasse, skaars versamelbottels, meer as 120 stalletjies en ’n program propvol vermaak, is daar iets vir die hele gesin.
Volgens Pieter van der Berg, president van die Mampoerkultuurstokersgilde en bekende stoker van Mookgophong (Naboomspruit), is die belangstelling vanjaar besonder groot. “Ons het reeds meer as 100 bottels bevestig en meer as 35 stokers wat deelneem. Die gehalte en kreatiwiteit is vanjaar eenvoudig ongelooflik,” sê Van der Berg.
“Besoekers kan uitsien na unieke produkte wat nêrens anders beskikbaar is – van grondboontjiebotter-sjokolade-likeur en Pink Lady-likeur tot Bubblegum-likeur en selfs ’n Vicks-gegeurde likeur. Elke produk word met passie, geduld en vakmanskap geskep.”
Hy voeg by dat sommige van die produkte vir maande lank verouder is om hul unieke geurprofiele te ontwikkel.
“Die Pink Lady-likeur bestaan uit ouderlingpilletjies wat vir ’n jaar lank in witblits gelê het. Dit gee aan dié sopie ’n besonderse karakter. Dit is nie iets wat jy in ’n winkel gaan kry nie – dit is eksklusief tot die Mampoerfees en die stokers se kuns.”
Dié fees die ware Jacob
Vanjaar brei die nasionale tuisdrankstookkampioenskap verder uit met drie splinternuwe klasse: jenewer (gin), whiskey en rum.
Die beoordelings vind reeds die voorafgaande Woensdag, Donderdag en Vrydag plaas, wanneer bottels in 34 klasse deur ’n paneel kundige beoordelaars geëvalueer word. Klaswenners word tydens die Mampoerfees aangekondig.
“Hoewel soortgelyke geleenthede dalk plaasvind, is die Mampoerkultuurstokersgilde die enigste geakkrediteerde mampoergilde in Suid-Afrika en die enigste organisasie wat ’n amptelike nasionale kampioenskap van hierdie aard aanbied,” beklemtoon Van der Berg.
“Elke produk wat by die fees beskikbaar is, het deur streng keuringsprosesse gegaan. Dit verseker dat gehalte, veiligheid en tradisie altyd voorop staan.”
Die beoordelaarspan staan onder leiding van dr. Loftie Ellis van Stellenbosch, wat meer as vier dekades se ervaring in die wyn- en drankbedryf het.

Amahewu-veiling ’n hoogtepunt
Een van die hoogtepunte bly die gewilde Amahewu-veiling, waar skaars bottels, klaswenners en unieke aandenkings aan die hoogste bieër verkoop word.
“Vanjaar gaan die veiling besonders wees,” sê Van den Berg. “Ek stel ’n antieke vierliterbottel uit die 1980’s beskikbaar. Dit is in ’n wiegiehouer gemonteer en sal by die Monument gevul en verseël word met whiskey wat drie jaar gelede deur Gildelede gestook is.”
Die bottel sal die Gilde se logo asook ’n spesiale Amahewu 2026-veilingplakker dra. ’n Tweede gegraveerde tweeliterbottel met dieselfde verouderde whiskey sal ook opgeveil word.
“Jy moet die fees bywoon om te kan bie,” sê Van der Berg. “Dit maak die ervaring besonders en laat mense deel word van die storie agter elke bottel.”
Vir kuierliefhebbers is daar nóg iets spesiaal: “Ek en my vrou, Lizette, bied ook ’n eenliter-perskebrandewyn saam met ’n tweeliter-Coke-pakket aan. Die brandewyn het vir elf maande op liquorice – of katjiedroppies – gelê, wat dit ’n unieke smaak gee.” Dieselfde brandewyn word ook vir die kampioenskap ingeskryf.
Vermaak vir oud en jonk
Hoewel mampoer die groot trekpleister bly, bied die fees veel meer. Besoekers kan uitsien na ’n dag vol tradisie, musiek, lekker kos en familiepret. Op die verhoog is vermaak deur onder meer Beeskraal, Kosie Beukes, die opkomende kunstenaar Zana Sonnekus en die gewilde sanger Altus Theart.
Tradisionele volksdanse en boereorkeste, insluitend die Tiekiedraai- en Kalkoentjie-dansgroep, asook die Wapadrand Boeredansgroep, sal sorg vir ’n eg Suid-Afrikaanse atmosfeer.
Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, speel die Mampoerfees ’n belangrike rol in die bewaring van Suid-Afrika se kulinêre en kultuurerfenis.
LEES OOK: Ketels ‘gorrel en gons’ vir sopies propvol skop by jaarlikse Mampoerfees
“Dit is vir ons ’n groot voorreg om die Mampoerkultuurstokersgilde jaarliks by die Monument te verwelkom,” sê Langner. “Net soos ’n kunstenaar sy kuns verfyn, slyp hierdie stokers voortdurend hul vaardighede en dra kennis van geslag tot geslag oor. Hierdie tradisie gaan oor stories, mense, herinneringe en gemeenskap.
“Eindelik vertel elke bottel ’n storie. By die Kultuurtuiste leef daardie stories voort. Die Monument is ’n plek waar mense saamkom om te leer, te lag, te kuier en ons erfenis te vier.”
Van der Berg meen die fees se sukses lê juis daarin dat dit oud en jonk bymekaar bring.
“Mense kom hierheen vir die nostalgie, die tradisie en die gesellige atmosfeer. Daar is werklik iets vir almal – of jy nou ’n kenner van mampoer is of net ’n lekker dag saam met familie en vriende wil geniet.”
- Kry jou kaartjie vir die Mampoerfees op 6 Junie by die Voortrekkermonument sommer vandag nog. Toegang vir volwassenes is R80, terwyl pensioenarisse R60 en kinders bo 13 jaar R30 betaal. Toegang vir kinders onder 13 is gratis. Klik hier om te bespreek.





You must be logged in to post a comment.